Kaapse Forum skenk 77 skooltasse met skryfbehoeftes aan laerskool in Uitsig
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek ’n skenking van 77 skooltasse aan C.L. Willmot Primêre Skool se behoeftige graad 1-leerders gemaak én dié tasse met skryfbehoeftes gevul. Hierdie skenking is deel van die burgerregteorganisasie se skooltassieprojek wat in samewerking met die Virseker Trust aangepak word. Die projek sal toesien dat daar vanjaar 400 skooltasse met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk aan hulpbehoewende graad 1’s in die Wes-Kaap geskenk word.
Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering, benadruk dat toegang tot gehalte onderrig belangrik en onontbeerlik is, veral by skole in die Vanrhynsdorp- en Uitsig-gemeenskappe.
“Navorsing het al telkens getoon dat hoe hoër opleidingsvlakke in ’n gemeenskap is, hoe laer hul werkloosheidsyfer is. Kaapse Forum hoop daarom dat hierdie skenking ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die leerders wat by die projek baat.”
Die heel basiese items in ’n graad 1-leerder se skryfbehoeftelys kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. In ’n provinsie soos die Wes-Kaap, waar hongersnood sowat 330 000 kinders raak en dié syfer oor die afgelope twee dekades nie afgeneem het nie, is dit verstaanbaar dat duisende leerders se ouers net eenvoudig nie die geld het om skryfbehoeftes aan te koop nie.
“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil in hul lewens sal maak, veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding begin. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.
Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust, AfriForum, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en PEP, wat beduidende afslag op die skooltasse en die inhoud daarvan, gegee het. Kaapse Forum kon vanjaar dus meer as dubbel soveel tasse as verlede jaar uitgee.
Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.


