OOR ONS

Doelstelling

Om die lewensomstandighede van alle gemeenskappe in die Wes-Kaap te verbeter deur die bevordering van gemeenskapselfstandigheid, selfhelp en die verdieping van demokrasie deur die bevordering van federalisme.

Aanvullende doelstellings, met ’n spesifieke fokus op die Wes-Kaap:

  • Die vestiging van sterk selfstandige gemeenskappe gefokus op selfhelp om onder meer armoede te help bekamp, gemeenskapsekonomieë uit te bou en goed funksionerende gemeenskappe te help vestig.
  • Konflikbeslegting, die bevordering van samewerking en wedersydse erkenning en respek tussen die onderskeie gemeenskappe van die Wes-Kaap.
  • Aanpak van gemeenskapsgebaseerde veiligheidsprojekte ter bevordering van die veiligheid van die gewone publiek.
  • Die bevordering van menseregte en die verdieping van demokrasie deur te werk na die afwenteling van besluitnemingsmag tot op die laagste moontlike vlak op ’n federale basis om gemeenskappe te bemagtig om self groter verantwoordelikheid vir hulle gemeenskappe te neem.

Direkteure

Heindrich Wyngaard – Uitvoerende voorsitter

Heindrich Wyngaard het homself die afgelope drie dekades gevestig as een van Suid-Afrika se voorste Afrikaanse meningsvormers oor die politiek en maatskaplike kwessies en as ‘n radio- en televisie-aanbieder. Hy was voorheen ‘n parlementêre korrespondent, asook politieke en meningsredakteur by twee hoofstroompublikasies. Ander rolle wat hy vertolk het, was as ’n woordvoerder in nasionale en provinsiale regeringsdepartemente, asook as mediabestuurder by die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool. Naas sy studies in die joernalistiek, het hy ook ‘n aantal modules in leierskap en sakesbestuur aan die USB-Bestuursopleiding en Wits-besigheidskool voltooi.

Maryna Marengo-Barnard

Maryna Marengo-Barnard is ’n prokureur en oud-onderwyser wat haar oor die jare as ’n kultuuropvoeder in Oos-Kaapse plattelandse gemeenskappe onderskei het. Haar opheffingswerk het haar al saam met groepe leerders oorsee geneem. Noudat sy die Wes-Kaap haar tuiste gemaak het, bly sy verbind daartoe om geleenthede vir veral jongmense te skep.

Malixole Gwatyu

Malixole Gwatyu was as ‘n media- en kommunikasiekundige al werksaam by onder meer die internasionale landbou-organisasie Solidaridad, die bemarkingsagentskap Brand et al. en die Suider-Afrikaanse Konfederasie van Landbou-unies (SACAU). Hy het sy joernalistieke tande by Die Burger, Landbouweekblad en Farming SA geslyp en hy was ook ’n veldaanbieder vir die televisieprogram Nisboere voordat hy onlangs in sy nuutste korporatiewe kommunikasierol aangestel is.

William Sezoe

William Sezoe is ’n senior onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch en ’n Afrikaanse taalaktivis in eie reg. Hy is ’n boorling van die Kaapse Weskus, wat glo dat opvoeding die beste voertuig is waardeur moontlikhede vir groter selfstandigheid ontsluit kan word.

Jean-Paul (“JP”) Biko Keyter

Jean-Paul (“JP”) Biko Keyter beskik oor ’n nasionale diploma in sakebestuur en as iemand wat in armoede in Uitenhage opgegroei het, is dit sy passie om te help dat welvaart in gemeenskappe geskep word. Hy het op sy dag semi-professioneel rugby gespeel, maar moes sy sportloopbaan weens ’n ernstige besering vaarwel toeroep. Hierna het ’n loopbaan in die uitsaaiwese gevolg op platforms soos BayFM, Kingfisher FM, Jacaranda, SABC Sport en eNuus. Hy is deesdae betrokke by ’n Amerikaanse maatskappy wat media-opleiding bied aan Fortune 500-maatskappye en bestuur ook sy eie produksiemaatskappy.

William Waugh – Bedryfshoof

William Waugh is bedryfshoof by die Kaapse Forum en dien ook op verskeie direksies binne die breër Solidariteit Beweging. Hy het sy graad verwerf aan die Universiteit van Pretoria en is ’n rekenmeester van beroep en ’n aktivis in sy hart.

Kallie Kriel

Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum. Hy het ’n meestersgraad in politieke geografie verwerf aan die Universiteit van Pretoria. Hy het homself sy lewe lank beywer om bestaande organisasies te versterk en op te bou sowel as om nuwe organisasies, soos Saai en die Kaapse Forum, tot stand te bring.