Een Miljoen sade van Rijk Zwaan help Kaapse Forum om groentetuine en landbouvaardighede by skole te versterk
Kaapse Forum het op 4 Februarie meer as een miljoen sade van Rijk Zwaan, die Nederlandse saad- en groenteveredelingsmaatskappy, ontvang ten bate van die organisasie se projek om groentetuine by skole te vestig. Hierdie ruim skenking sal aangewend word by skole waar Kaapse Forum reeds betrokke is met ’n sterk fokus op praktiese leer, volhoubare skoolprojekte en die vestiging en uitbreiding van groentetuine. Die skenking sluit sade van onder meer beet, skorsie, brokkoli, blomkool, kool, verskillende tipes soetrissies, komkommer, brandrissies en tamaties in.
“Wanneer ’n leerder ’n saadjie plant, leer hy nie net van die saad se ontwikkeling tot ’n volgroeide plant nie maar ook van verantwoordelikheid, voeding, selfstandigheid, waardekettings en die waarde van arbeid. Hierdie skenking is ’n belegging in ons kinders se toekoms,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
Hierdie inisiatief bou direk voort op Kaapse Forum se bestaande benadering waar skool- en gemeenskapsprojekte sentraal staan en waar landbou- en vaardigheidsontwikkeling ’n belangrike rol speel, onder meer deur skool- en gemeenskapsinisiatiewe soos groentetuine (en verwante volhoubare projekte) wat leerders blootstel aan werklike geleenthede in die landbousektor. By van die skole sal die groente by die plaaslike voeddingskema gebruik word. Luidens die South African Child Gauge 2025 raak hongersnood sowat 330 000 kinders in die Wes-Kaap. Dié provinsie is ook die enigste in die land waar die hongersnoodsyfer onder kinders nie die afgelope twee dekades afgeneem het nie. Dit is ook ’n sterk aanduiding dat landbou weer oorweeg moet word om hongersnood te takel.
Kaapse Forum bedank Rijk Zwaan vir hul bereidwilligheid om plaaslik ’n meetbare verskil te maak en vir die werk wat die maatskappy internasionaal doen om voedselproduksie meer volhoubaar te maak. Verder is Rijk Zwaan deel van breër pogings in die bedryf om saadproduksie meer volhoubaar te maak deur samewerking oor maatskappygrense heen – ’n benadering wat wys dat langtermyn-voedselsekerheid en verantwoordelike produksie werklik saak maak. Hierdie etos sluit ook aan by Saai, Kaapse Forum se landbouvennoot, dat volhoubaarheid, winsgewendheid en doeltreffendheid deel is van die waardeketting vir voedselsekuriteit.
Kaapse Forum sien uit daarna om saam met sy betrokke skole, opvoeders en leerders hierdie skenking in ’n sigbare, meetbare impak te omskep tuin vir tuin, klas vir klas, leerder vir leerder.
Raak vandag nog by Kaapse Forum betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.


