Opstel van gratis testamente bring hoop en sekerheid aan Kaapse gemeenskap
Kaapse Forum het op 16 en 23 Februarie, in samewerking met Smuts & Co Prokureurs en die gemeenskapsleier Lynn Jean Louw, ’n werkswinkel in Morningstar (Durbanville) aangebied waartydens gratis testamente vir die gemeenskap opgestel is.
Luidens Renata Smit van Smuts & Co Prokureurs het die inisiatief ten doel om gemeenskapslede bewus te maak van die belangrikheid van ’n geldige testament en deeglike boedelbeplanning, wat dikwels as gevolg van ’n gebrek aan inligting of toegang tot bekostigbare regsdienste agterweë bly. Deur middel van hierdie projek word gratis testamente opgestel en professionele regsadvies gebied om te verseker dat families hul geliefdes en hul bates beskerm. Die projek vorm deel van ’n breër verbintenis om gemeenskappe deur opvoeding, ondersteuning en verantwoordelike regsbeplanning te versterk.
“Ons glo dat toegang tot basiese regsdienste ’n noodsaaklike deel van gemeenskapsbemagtiging is. Met hierdie projek wil ons ’n werklike verskil maak en soveel moontlik mense help om met gemoedsrus voorsiening te maak vir hul naasbestaandes,” sê Smit.
Volgens Aldo Carelse, projekkoördineerder by Kaapse Forum en toegelate prokureur wat in bestorwe boedels spesialiseer, bly baie families vasgevang omdat eiendom nie wettig oorgedra kan word wanneer iemand sonder ’n testament afsterf nie.
“’n Testament is nie net vir ryk mense nie; dit is die fondament waarop jy rykdom vir toekomstige geslagte bou. Wanneer iemand intestaat sterf, besluit die Boedelwet 66 van 1965 hoe die boedel verdeel word. Dit lei dikwels tot onduidelike eienaarskap, familie-onenigheid en eiendom wat in ’n soort staat van onsekerheid bly,” sê Carelse.
Hy beklemtoon dat talle families in huise woon wat steeds wetlik op die naam van ’n oorlede ouer of grootouer geregistreer is. Sonder ’n geldige testament kan sodanige eiendom nie maklik as sekuriteit gebruik word vir finansiering nie, wat beteken dat geleenthede vir besigheidsontwikkeling, studielenings of verdere belegging verlore gaan.
“Te dikwels neem niemand verantwoordelikheid nie. Die eiendom verloor waarde, herstelwerk word uitgestel en die volgende geslag kry op die ou einde minder – nie meer nie. ’n Testament gaan nie net oor die dood nie – dit gaan oor geregtigheid, waardigheid en om jou kinders iets werklik te laat erf,” verduidelik Carelse.
Die positiewe opkoms by die werkswinkel bevestig dat testamente ’n prioriteit in bruin gemeenskappe is. Dit bied sekerheid en verseker dat mense se wense gerespekteer en uitgevoer word met afsterwe. Dit bring ook gemoedsrus vir families en voorkom onnodige konflik en regskostes in die toekoms.
Nog ’n verdere opvolg-sessie word in samewerking met Smuts & Co Prokureurs beplan. “Hierdie en ander soortgelyke vennootskappe is kern vir gemeenskapsaktivering waar plaaslike ondernemings en burgerregteorganisasies hande vat om gemeenskappe in gebiede opleiding en raad te gee op terreine wat vir hulle onbekend is,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
Vir meer inligting, kontak Kaapse Forum by aldo.carelse@kaapseforum.co.za.


