Kaapse Forum ontvang reuseskenking van AON om onderwysprojekte te bevorder

Kaapse Forum het verlede week ’n ruim skenking van die Afrikaanse Onderwys Netwerk (AON) ontvang wat Kaapse Forum by Afrikaanse skole waarby die organisasie betrokke is kan aanwend. Hierdie skole is hoofsaaklik Afrikaanse plattelandse skole waar bruin leerders skoolgaan.

Die skenking sluit in 25 plakkate, 350 woordsoorte sakkaarte, 350 skryftekens sakkaarte en 350 sakpaskaarte vir vraestel 1 en 2 uit AON se Verruklike Afrikaanse reeks. Verder is 100 A4-periodieke tabelle, 50 stelle A1-periodieke tabelle, 25 stelle Wiskunde-plakkate vir graad 11 en 12, en 15 stelle Wiskunde-plakkate vir graad 7 en 8, ook geskenk.

“Onderwys en ’n regverdige, gelyke begin vir kinders is vir Kaapse Forum sentraal tot ons onderwysstrategie. Vennootskappe en groter gemeenskapsamewerking is noodsaaklik vir volhoubare projekte en inisiatiewe om sodoende ’n daadwerklike verskil te kan maak op voetsoolvlak,” sê Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van gemeenskapsaktivering.

Die Kaapse Forum se onderwysstrategie is gebou op projekte en inisiatiewe wat mekaar aanvul.

Volgens Pieters sal hierdie skenking bydra tot Kaapse Forum se bestaande projekte by hul netwerk van skole. “Ons steun sterk op skenkings en evalueer projekte noukeurig voordat ons betrokke raak. Dit is ook vir ons belangrik om individue en organisasies wat reeds goeie werk doen te versterk met hulp, ondersteuning en hulpbronne. Dit is nie ons alleen wat ’n verskil in gemeenskappe maak nie.”

Die AON-mandaat is om leemtes te identifiseer, strategiese dienste te voorsien en vennootskappe te vestig. Die AON se vennote sluit in Fedsas, die SAOU, die Skole-Ondersteuningsentrum (SOS), die ATKV, Afrikaans.com, die Virtuele Instituut vir Afrikaans, Woorde Open Wêrelde (WOW), Vriende van Afrikaans, Die Afrikaanse Taalraad, die MOS inisiatief en tersiêre instellings soos Akademia en die NWU.

“Ons ondersteun Afrikaanse skole in samewerking met vennote, om ’n verskil te maak en Afrikaanse leerders ’n kompeterende voorsprong te gee,” sê Daan Potgieter, hoof uitvoerende beampte by die AON.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.