KAAPSE FORUM HULDIG AKTEUR SOLI PHILANDER
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum neem met spyt kennis van die heengaan van die legendariese akteur, komediant en aktivis Soli Philander, Woensdag 4 Maart. Hy was 65 jaar oud en het weens kanker gesterf.
Philander het geliefd geraak onder Suid-Afrikaners vir die unieke wyse waarop hy sy rolle vertolk het – van so ver terug as die ikoniese Kramer-Petersen-musiekblyspel District Six, The Musical in 1987. Talle TV- en filmrolle sou volg, terwyl Philander ook as ’n radio-omroeper en stemkunstenaar naam gemaak het.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê: “Soli was ’n uitstekende voorbeeld van hoe kunstenaars hul aansien en aanhang kan aanwend om ’n groter samelewingsrol te vertolk deur as ’n stem vir gemarginaliseerde mense op te tree.”
Kaapse Forum betoon sy medelye met die Philander-familie.


