Kaapse Forum steun Kaapstad-metro se plan vir eie speurdiens; eis algehele afwenteling van polisiemagte

Kaapse Forum steun die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit se plan om ná die komende plaaslike verkiesing ’n eie speurdiens in sy metropolisie-afdeling te vestig. Die organisasie verwelkom dit as ’n belangrike stap in die rigting van die afwenteling van polisiemagte – ’n veldtog wat Kaapse Forum as burgerregte-organisasie sedert 2022 voer.

“Die Grondwet verplig die regering om landsburgers teen misdadigers se skrikbewind te beveilig, maar die regering faal duidelik in hierdie verantwoordelikheid,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum. “Dit is waarom ons organisasie enige inisiatief verwelkom om ’n veiliger omgewing vir inwoners van die Wes-Kaap te skep.”

Kaapse Forum het die Konstitusionele Hof vroeër genader om provinsiale referendums ’n werklikheid te maak. Hierdeur wil die organisasie die inwoners van die Wes-Kaap se steun vir die afwenteling van polisiemagte toets. Dié kwessie dien tans voor die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee oor Binnelandse Sake.

Wyngaard sê Kaapse Forum het teen dié agtergrond die uitvoerende burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, laat weet dat die organisasie die Kaapstad-metro ten volle steun met sy speurdiensplan. “Selfs al word dié plan uit sommige oorde as ’n verkiesingsfoefie beskou,” sê hy, “het geen ander burgemeesterskandidaat van enige ander party al met ’n beter teenmisdaadplan vorendag gekom nie.”

Terwyl Kaapse Forum glo die stryd teen misdaad in die Skiereiland – en bepaald die Kaapse Vlakte – sal ’n behoorlike hupstoot gegee word as die Kaapstad-metro self ondersoeke na voorvalle van misdaad kan doen, sal dié intervensie alleen nie voldoende wees nie.

“Die algehele afwenteling van polisiemagte na goedbestuurde munisipaliteite, metrorade en provinsies, is die uiteindelike oplossing. Dit sal dié regeringsfere in staat stel om self besluite te neem oor aanstellings en die ontplooiiing of aanwending van hulpbronne – eerder as dat op ’n disfunksionele nasionale polisiebestuur staat gemaak moet word,” sê Wyngaard.

Terselfdertyd wil Kaapse Forum gemeenskappe daarop wys dat hulle steeds die verantwoordelikheid het om ook hul bydrae in die stryd teen misdaad te maak deur by inisiatiewe soos buurtwagte betrokke te raak. Selfs belangriker is dat inwoners inligting oor misdaad met die polisie moet deel om behoorlike ondersoeke te verseker.

Wyngaard sê: “Kaapse Forum is bewus dat die vertrouensvlakke tussen die polisie en gemeenskappe tot so laag as 22% is, maar dit kan nie as verskoning vir gemeenskappe dien om inligting van ondersoekers te weerhou nie.”

Kaapse Forum beplan om aan die begin van Augustus ’n protesaksie buite die Nasionale Vergadering te hou ter steun van die organisasie se referendum-veldtog.