McKenzie en ondersteuners is “politieke barbare”
Die leier van die Patriotic Alliance (PA), Gayton McKenzie, en sy volgelinge is politieke barbare wat gekeer moet word.
Dié stelling is vanoggend deur Kaapse Forum se voorsitter, Heindrich Wyngaard, by die Etienne van Heerden-veldsoiree in Nxuba (voorheen Cradock) in die Oos-Kaap gemaak.
Wyngaard het in sy praatjie, getiteld “Die rol van skrywers in verkiesingstyd”, verwys na die rol van bruin Afrikaanse skrywers uit die struggle-era, onder wie Patrick Petersen. Dié dominee-digter het bruin skrywers destyds uitgedaag om “dit wat vieslik, vuil en lelik is en wat so teen ons bekýk, belééf en besin word, letterlik af te skryf”.
Mckenzie en sy “grondhonde”, soos die PA na sy lede in gemeenskappe verwys, is die nuwe teken van dit waarna Petersen verwys, glo Wyngaard. Dit bied egter ’n skewe beeld van die bruin gemeenskap vandag, wat in die algemeen beskaafde gewoontes uitleef.
Politieke opponente van McKenzie en die PA word gereeld op sosiale media in die “liederlikste taal” uitgekryt, sê Wyngaard. “Geen verdraagsaamheid bestaan skynbaar in dié party vir ordentlike politieke gesprekke met mense wat ander standpunte huldig of ander partye ondersteun nie.”
Wyngaard sê die PA-lede is dus niks beter as die “barbare by die hek” in die oorspronklike betekenis uit die Romeinse geskiedenis nie. Hulle word egter baie ruimte gegun om in die PA se “politieke (bende)taal” hul opponente te dreig – ook soms met fisieke geweld.
“Bruin kiesers moet waak daarteen dat hulle nie mislei word of gemanipuleer word deur leiers soos McKenzie en die NCC se Fadiel Adams om te glo dat hulle wesenlike veranderings aan die mense se lewensomstandighede sal aanbring nie,” sê Wyngaard. “Hierdie partye het nog nie een behoorlike beleidstandpunt kon aanbied vir die groot uitdagings wat in bruin gemeenskappe op maatskaplike en ekonomiese vlak ervaar word nie.”
Skrywers het ’n rol te speel in die ontbloting hiervan, glo Wyngaard. Dit behoort nie slegs bruin skrywers te wees nie, maar ook wit en swart.

