Kaapse Forum eis van MRK om namens Weskus-plaasinwoners in te gryp
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het dringende ’n beroep op die Menseregtekommissie (MRK) gedoen om werknemers en bewoners van ’n plaas aan die Weskus by te staan. Kaapse Forum het inligting ontvang dat die nuwe eienaar van die plaas Modderrivier, buite Yzerfontein, glo dié mense van die plaas probeer wegdryf. Hulle het vroeër permanente verblyfreg bekom.
Die eienaar, ’n hoëprofiel-sakeman van die Kaap, het na verneem word eers die water- en kragtoevoer na die inwoners se huise afgesny. Intussen is ’n houtbruggie, waardeur inwoners (waarvan sommige bejaard) toegang tot hul kerk en skool kry, ook kwaadwillig vernietig. Ses gesinne, waaronder ’n 83-jarige inwoner, word deur dié optrede geraak.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê: “Enige geval waar mense aan die ontvangkant is van onmenslike behandeling moet aan die groot klok gehang word, ongeag of die oortreder ’n wit, bruin of swart grondeienaar is. Ons het vandag ’n dringende brief aan adv. André Gaum van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie gerig om te versoek dat die kommissie die aangeleentheid spoedig moet ondersoek.”
Kaapse Forum sal die situasie dophou en regsoptrede teen die eienaar oorweeg indien die saak nie na wense bygelê word nie.
Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.