Kaapse Forum gaan groen: Plant 60 vrugtebome by skool in George
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het verlede week (8 November) ’n opwindende groen projek in samewerking die Kaapse Forum-vennoot Green for Life, die organisasie se uitvoerende hoof, Jan Odendaal, en die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake aangepak. Sestig vrugtebome is as deel van dié projek by Carpe Diem, ’n skool vir fisiek, leer- en intellektueel gestremde leerders, in George aangeplant.
Die doel van dié groen projek is om Carpe Diem se bestaande groentetuinprogram te help versterk.
Volgens Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, doen Carpe Diem se skoolhoof, Elzeth Grobler, en haar span reeds ongelooflike werk by dié skool. “Ons hoop dat hierdie 60 vrugtebome, waaronder appel-, perske- en suurlemoenbome, hul groentetuinprojek van krag tot krag sal laat gaan,” verduidelik hy.
Kaapse Forum fokus, deur middel van verskeie projekte, op die welstand skole en leerders. “Die geheim van gehalte-opvoeding, goeie waardes, dissipline en vaardighede wat kinders op skool moet aanleer, lê in die leierskap van ’n skool. Dit is dus vir ons ’n voorreg om ’n skool wat reeds só goed doen, te help om die volgende tree na uitnemendheid te neem,” sê Pieters.
“Dit was verblydend om te sien met watter passie en ywer die kinders deelgeneem het aan die projek. Kaapse Forum sal voortgaan om skole, waar prakties moontlik, te ondersteun in projekte wat onafhanklikheid van die staat bevorder,” sê Pieters.
Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.