Kaapse Forum betoog teen borgtog vir mesmaniak wat vrou se keel sny
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum en gemeenskapslede het vandag voor die Athlone-landdroshof in Kaapstad betoog teen borgtog vir die beweerde mesmaniak Arthur Sass wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou, Genevieve Snyders, op 28 November in die borskas gesteek en haar keel gesny het.
Snyders was by ’n winkel om kos vir haar kind te gaan koop toe sy aangeval is. Die beskuldigde word na bewering sedert 2008 ook gesoek in verband met die moord op sy vorige vrou. Hy is Woensdag in hegtenis geneem.
Kaapse Forum het vandag met plakkate waarop slagspreuke soos “Justice 4 Genevieve #NO BAIL”, “Silence is violence” en “Weg met GBV” voor die hof betoog.
Volgens Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, moet enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ten sterkste veroordeel en uitgeroei word. Hy voer daarbenewens aan dat die afwenteling van polisiëringsmag na provinsiale vlak en die stigting van ’n spesialiseenheid om geslagsgebaseerde geweld te ondersoek, noodsaaklik is om dié probleem die hoof te bied.
“Misdaad is een van die grootste struikelblokke vir ekonomiese vooruitgang in Suid-Afrika. Dit is veral betreurenswaardig as gesinne, wat die boublok is van enige standvastige samelewing, gebuk moet gaan onder geweld teenoor vroue. Dit is tragiese morele verval in die ergste vorm,” sê Pieters.
Kaapse Forum het reeds verskeie vennootskappe aangegaan om die pandemie van geslagsgebaseerde geweld in Kaapse gemeenskappe te takel. ’n Voorbeeld hiervan is die samewerking met die Mosselbaai-sopkombuis wat deur die oudsoldaat William Sam bestuur word. Slagoffers van geslagsgebaseerde geweld vorm hier ’n ondersteuningsnetwerk waar hulle hul stories met mekaar deel en ook deur middel van gemeenskapswerk saam genesing vind.
Die borgaansoek is uitgestel tot 14 Desember. Sass bly intussen in aanhouding.