Onderwys

Verreikende gevolge wag op Wes-Kaap as meer as 2 400 onderwysposte besnoei gaan word, waarsku Kaapse Forum

Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se besluit om aanstaande jaar meer as 2 400 onderwysposte te besnoei, sal verreikende gevolge vir die provinsie inhou en nie net die onderwyssektor nadelig beïnvloed nie, maar ook gemeenskapsontwikkeling, misdaadsyfers en ekonomiese groei. Só waarsku die burgerregteorganisasie Kaapse Forum in sy vierpunt-risikoanalise nadat die WKOD skole in dié provinsie Dinsdag in kennis gestel het van die besluit wat weens ’n begrotingstekort van R3,8 miljard geneem is. Indien dié besnoeiing voortgaan sal nagenoeg 7% van die provinsie se sowat 36 000 onderwysposte in die provinsie in gedrang wees. 

Kaapse Forum het reeds in Januarie en April vanjaar met die WKOD vergader om onder meer vir groter onafhanklikheid van en verminderde staatsbeheer by skole te pleit. Die organisasie hou vol dat ’n federale benadering tot onderwys in hierdie provinsie die impak van die WKOD se drastiese besluit sou kon versag.

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, sal die impak van die beoogde besnoeiings die swaarste gevoel word in terme van die gehalte van onderwys wat gelewer sal kan word. Kaapse Forum het ’n analise gedoen om te bepaal watter impak die besnoeiings gaan hê. Dit is vervat in ’n vierpunt-risikoanalise wat aan die WKOD voorgelê sal word.

“Groter klasse en minder individuele aandag gaan leerders se voorland in veral minder gegoede skole wees,” verduidelik Pieters. “Dit ten spyte daarvan dat die WKOD in sy prestasieplan vir 2024/2025 aangedui het dat die vraag na onderwys in die provinsie sodanig toeneem dat daar ’n minimum van 1 440 bykomende klaskamers benodig word om aan die behoefte te voldoen.”

Statistiek wat in dieselfde plan aangehaal word, toon dat meer as 404 800 leerders in dié provinsie verlede jaar in oorbevolkte klasse onderrig ontvang het. Dit kom neer op nagenoeg 34% van alle Wes-Kaapse graad 1- tot 12-leerders, insluitende leerders met spesiale onderwysbehoeftes, wat reeds in klasse met 40 leerders of meer geplaas word. Volgens die WKOD is die algemene aanvaarde standaard vir klasgroottes hoogstens 37 leerders per klas.

Benewens die impak op onderwys, sal die invloed van dié besluit deursyfer tot op ander vlakke, insluitende gemeenskapsontwikkeling, misdaad en ekonomiese groei in die provinsie.      

“Dringende en gesamentlike aksie en beplanning is nou noodsaaklik om, in die belang van onderwys in die Wes-Kaap en gemeenskappe in die provinsie, op te tree en die begrotingstekorte te oorbrug,” benadruk Pieters.

Kaapse Forum het intussen vandag onderneem om gesprekke met die WKOD te hervat, ander belanghebbende instellings te betrek met die doel om die gevolge van die stappe te oorweeg en saam aan oplossings te werk. Kaapse Forum sal hiertydens sy vierpunt-risikoanalise van verwagte gevolge (sien aangeheg) aan die WKOD voorlê.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.