Kritiek op Manie Libbok “oorblyfsel uit die verlede”

Die kritiek op Manie Libbok oor die Springbokke se nederlaag die afgelope Saterdag teen Argentinië is op ’n manier ’n oorblyfsel van ons gedeelde verlede, sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die burgerregteorganisasie Kaapse Forum.

“Wat baie van Libbok se kritici op die oog weier om in ag te neem, is die prys wat hy moes betaal – en wat hy moes oorkom – om as ’n arm, bruin, Afrikaanssprekende, plattelandse kind uit die Oos-Kaap tot in die Bokspan te vorder.”

“Dít is die soort druk wat nie deel is van meeste van sy spanmaats se werklikheid nie,’ sê Wyngaard. “Dit is ook wat maak dat hy hoop bring vir die kinders wat steeds vasgevang is in die ellende van die gemeenskappe wat ’n Manie Libbok oplewer.”

Kaapse Forum glo dat alle spelers – ongeag hul ras- of kulturele agtergrond – regverdige kanse gegee moet word om op hul tekortkominge te verbeter. Wanneer hulle fouteer, moet hulle steeds ondersteun word as verteenwoordigers van die land in nasionale sportspanne. Die organisasie glo ook dat Suid-Afrikaners nie eensydig op nasionale spanne se nederlae moet reageer nie; eweneens moet ons nie oorwinnings selektief vier nie.

Wyngaard sê: “Die besef waartoe ’n mens op die vooraand van Erfenisdag kom, is dat ons nog heelwat het om oor dialoog te voer om ’n beter begrip vir mekaar se sienswyses onderling te kweek. Kaapse Forum wil hierin ’n betekenisvolle, opbouende rol speel.”