Kaapse Forum skenk skryfbehoeftes en ander noodsaaklikhede aan Wes-Kaapse skool wat dalk deure moet sluit

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandeesweek ’n skenking van skooltasse gevul met skryfbehoeftes aan 15 behoeftige graad 1-leerders van die Nuwefontein Primêre Skool, ’n skooltjie op Kliprand in die verre noorde van die Wes-Kaap, gemaak. As deel van dié projek wat in samewerking met die Virseker Trust aangepak word en waardeur sowat 200 skooltassies met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk aan hulpbehoewende graad 1’s in dié provinsie geskenk word, is daar ook watervrye urinale aan Nuwefontein geskenk.

Dié afgeleë skool is die enigste in dié gebied en bied onderrig aan 29 leerders uit die omgewing. Sluiting staar boonop, volgens die skoolhoof, Arrie Cloete, die skool in die gesig weens die skool se klein getalle. 

Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, waarsku dat dit die skool se net meer as twee dosyn leerders sonder ’n heenkome vir onderrig sal laat omdat die naaste skool sowat twee ure se ry daarvandaan is. 

“Toegang tot gehalte onderrig is belangrik en in ’n gemeenskap soos dié waarin Nuwefontein Primêre Skool is, onontbeerlik,” benadruk Pieters. “Navorsing al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheidsvlakke lei. Daarom meen Kaapse Forum sal die skenkings wat by Nuwefontein en ander skole en sorgsentrums in die Wes-Kaap gemaak is, ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die betrokke leerders wat by die projek baat.”  

Die heel basiese items in ’n graad 1-leerder se skryfbehoeftepakket kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. Luidens die South African Child Gauge-studie vir 2024 is daar in 2022 bevind dat die Noord-Kaap die provinsie met die hoogste persentasie hongersnood onder kinders (24%) is. Die Wes-Kaap is in die tweede posisie met sowat 16% van kinders in dié provinsie wat onder die broodlyn leef. Die Wes-Kaap is ook die enigste provinsie in die land waar die hongersnoodsyfer onder kinders nie die afgelope twee dekades afgeneem het nie. Dit in ag genome, is dit te verstane dat duisende skoolleerders se ouers net eenvoudig nie die fondse het om skryfbehoeftes aan te koop nie.

Volgens Pieters het die Wes-Kaapse regering in ’n oorsigdokument oor ekonomiese aangeleenthede benadruk dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding van die belangrikste elemente is wat ’n invloed op ’n leerder se akademiese prestasie het. Daar is onlangs aangekondig dat die onderwyser-leerder-verhouding tans op ’n gemiddeld van 1:35 staan en in sekere gebiede, soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plain, is oorvol klaskamers ’n ernstige probleem. Met die verlies aan kundige onderwyspersoneel sal hierdie verhouding vanjaar verder toeneem wat tot bykomende uitdagings sal lei. Kaapse Forum het reeds verskeie vergaderings met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) gehad oor samewerking en moontlike oplossings hiervoor.

Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak met behulp van die Virseker Trust.

“Dit is ’n eer en voorreg vir Virseker – Suid-Afrika se enigste trots Afrikaanse versekeringshandelsmerk – om by die skooltassieprojek betrokke te wees en só die jong leiers van môre toe te rus om hul volle potensiaal te bereik. Ons staan op die skouers van elke Virseker-polishouer, wie se maandelikse bydrae tot die Virseker Trust ons help om Afrikaanse onderrig te bevorder, gemeenskappe in nood te help en Afrikaans as taal te bou, te groei en te sien floreer. Ons kinders is ons rykste skat, een waarin die hoop op ’n selfs beter Suid-Afrika opgesluit lê, en ons hoop dat elke splinternuwe tassie net die begin is van ’n skitterblink toekoms,” sê Morné van Emmenes, Virseker se hoof van bemarking.

Kaapse Forum sal vanjaar as deel van ’n deurlopende onderwysstrategie ook druk op die WKOD plaas om die beloftes om nuwe skole in dié provinsie op te rig, na te kom of om in vennootskap met burgerregteorganisasies aan volhoubare oplossings te werk.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil sal maak in hierdie leerders se lewe – veral waar hulle nou formeel hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.