Genadendal-onderwyssimposium plaas uitdagings met taal en leer in Afrikaans in die kollig
Die land se oudste Morawiese sendingstasie te Genadendal in die Overberg-distrik van die Wes-Kaap, tree hierdie naweek op as die bymekaarkomplek van sommige van Afrikaans se voorste onderwyskenners.
Moedertaalonderrig sal die hooffokus van die simposium wees – en spesifiek ook oor hoe om die taalverwarring teen te werk wat ontstaan weens die verengelsing van leerders uit Afrikaans-huistaal gesinne en gemeenskappe.
Onder die sprekers tel prof. Michael le Cordeur, Emeritus-professor in Kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch en voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Die uitvoerende hoof van die KunsteKaap-teater, dr. Marlene le Roux, sal geleenthede aan die gehoor voorhou wat deur taal vir die jeug in die kunste-sektor ontsluit kan word, terwyl dr. Theuns Eloff van die Trust vir Afrikaanse Onderwys die belangrikheid sal beklemtoon van gemeenskappe se betrokkenheid by die bepaling van skole se taalbeleid.
Ander sprekers sluit in die spraakterapeute Valenzia Mackenzie van die Overberg-onderwysdistrik en Sunica Janse van Vuuren van die sub-Wynland-distrik, wat hul ervarings met taal en leer in hul onderskeie distrikte sal deel. Jeannette Moos van die organisasie Shiloh praat oor voorskoolse onderrig en Maryke Bellingan, ‘n spesialis in leerderondersteuning by Solidariteit se Skole-Ondersteuningsentrum (SOS), sal voorspraak maak daarvoor dat skole en leerders nie durf aptyt verloor vir Wiskunde as vak nie.
In die paneelbespreking “Prinsipale wat planne maak” deel drie hoofde en een oudhoof die resepte wat hulle gevolg het om oplossings te vind vir probleme wat hulle ondervind het, waaronder leerders wat honger by die skool opdaag.
Die simposium, wat deur die gemeenskapsorganisasie Kaapse Forum met die ondersteuning van die Afrikaans Amptelik 100-veldtog gereël word, word gehou om erkenning te gee aan dié dorp se historiese rol in die ontwikkeling van onderwys en opleiding.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê: “Ons organisasie is ’n geruime tyd reeds in die plaaslike gemeenskap betrokke. Ons het dit daarom gepas gevind om ons verhouding met Genadendal op dié wyse verder uit te bou.”
Wyngaard vertel dat die opgetekende geskiedenis van onderwys op Genadendal begin waar die Duitse sendeling Georg Schmidt die inheemse matriarg, Vehettge Tikkuie, alombekend as Moeder Lena, die Bybel leer lees het. Ander sendelinge, wat hom opgevolg het, het ook baie gou die waarneming gemaak dat daar ’n gretigheid onder die oorspronklike inheemse inwoners was om geletterd te raak. Later volg die vestiging hier van die eerste opleidingskollege vir onderwysers in 1838.
“En dan moet ek ook byvoeg dat die plaaslike Emil Weder Hoërskool in meer onlangse jare die voorkeurskool geword het van leerders wat later onder meer bekende persoonlikhede sou word, soos RSG se Terrance April en die krieketkommentator Jeremy Fredericks,” sê Wyngaard. “Dit is deur hul taalvaardigheid – en kennis, natuurlik – dat hulle sukses in hul loopbane behaal het.”