Uitgebreide buurtwagopleiding volg ná onlangse inbrake in Durbanville

Kaapse Forum beplan om in die volgende paar weke basiese buurtwagopleiding aan die breër gemeenskap van Durbanville aan te bied in ’n poging om praktiese oplossings vir die gebied se veiligheidsuitdagings te bied. Dié opleiding, wat gemeenskapslede in staat stel om hul buurte doeltreffend en volgens die raamwerk van die wet te beveilig, volg ná die onlangse inbraak by die leessentrum in Morningstar en ander ernstige veiligheidsuitdagings wat die gemeenskap van Durbanville kwesbaar gelaat het.

Aldo Carelse, projekassistent by Kaapse Forum, sê die onlangse rooftog by die leessentrum was ’n groot slag vir die gemeenskap van Morningstar. Dié sentrum is nie net verwoes nie, maar broodnodige toerusting soos fietse, wat vir die plaaslike buurtwag geoormerk was, is ook gebuit.

’n Aantal gewelddadige aanvalle by onder meer kitskosrestaurante in die gebied, het boonop ook uitgelig hoe kwesbaar die gemeenskap van Durbanville werklik is.

“Dit is duidelik dat daar ’n dringende behoefte aan buurtwagopleiding in die area bestaan. Dié soort opleiding is prakties van aard en sal meer inwoners in staat stel om eienaarskap te neem van hul veiligheid en betrokke te raak by hul gemeenskap se veiligheid,” sê Carelse.

Onderwerpe wat tydens die opleiding behandel gaan word, sluit die regsaspekte in wat van toepassing is op buurtwaglede wat aan patrollies deelneem. Dit sluit onder andere in wat die wet toelaat, wat nie toegelaat word nie en hoe lede binne die raamwerk van die wet moet optree wanneer hulle hul gemeenskappe help beveilig. Hierdie deel van die opleiding is veral belangrik om toe te sien dat patrollies regmatig en verantwoordelik uitgevoer word.

Verder sal Kaapse Forum, in vennootskap met AfriForum, gemeenskapslede wat besluit om aan die opleiding deel te neem,  leer oor die hantering van misdaadtonele en ongelukstonele, asook die doeltreffende gebruik van tweerigtingradio’s en terminologie.

“Kaapse Forum se veiligheidsinisiatief is ’n belangrike stap tot selfstandige gemeenskappe. Die betrokkenheid van die breër gemeenskap, wat bereid is om ’n positiewe bydrae tot hul omgewing te maak, is veral belangrik vir die algehele veiligheid van die gebied,” sê Johan Crous, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Suidstreek.

Crous, wat ook fasiliteerder van die opleiding is, benadruk dat behoorlike opleiding vir buurtwaglede noodsaaklik is, veral omdat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) nie die stryd teen misdaad alleen kan beveg nie.

“Die SAPD het opgeleide lede van die publiek nodig wat beamptes in enige geval kan bystaan. Almal – van buurtwaglede, tot wetstoepassers en private sekuriteitsdienste – het mekaar nodig om Durbanville veiliger te maak,” sê Crous.

Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, voeg by dat misdaad – oftewel die afwesigheid van veiligheid – die grens tussen gemeenskappe oorsteek. “Ons het dus ’n gedeelde verantwoordelikheid om misdaad saam te bekamp en saam te verseker dat al ons gemeenskappe veilig voel wanneer hulle saans gaan slaap en soggens opstaan. Ek wil mense in die gemeenskappe waar Kaapse Forum werksaam is, persoonlik nooi om hierdie opleidingsgeleentheid aan te gryp – teen geen koste, boonop.”

Kaapse Forum en AfriForum nooi alle belangstellendes uit om Aldo Carelse by  aldo.carelse@kaapseforum.co.za of navrae@kaapseforum.co.za te kontak om aan die opleiding deel te neem en sodoende deel tet word van ’n gemeenskap wat geroep voel om hul buurt te beveilig.