Johannesburg-metro skend Coronationville se regte oor water, sê Kaapse Forum

Klankgreep: Elizma Arendse (Afrikaans)
Klankgreep: Elizma Arendse (Engels)

Kaapse Forum is diep ontsteld oor die gebeure in die Johannesburgse buurt Coronationville waar inwoners die afgelope paar dae genoop is om protesaksies te loods oor die nie-voorsiening van waterdienste.

“Die nie-voorsiening van waterregte is ’n erge skending van ’n basiese mensereg van die gemeenskap,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum. “Ons vind dit geheel onaanvaarbaar dat oues van dae, siekes en kinders almal gebuk moet gaan oor ’n duidelike onvermoë van die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit om hierdie diens te lewer.”

Kaapse Forum spreek die organisasie se ondersteuning uit teenoor die gemeenskap wat in opstand kom teen die Johannesburgse metro. “Dit kom voor asof die raad meer bekommerd is oor wie aan stuur van sake is as wat hulle bekommerd is oor dienslewering,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum glo die huidige stand van sake is – in die aanloop tot die volgende plaaslike verkiesings – ’n wekroep aan die gemeenskap om te verseker dat hulle volgende keer stem vir verteenwoordigers wat werklik omgee vir die mense en vir nie posisies nie.

Die organisasie neem ook kennis daarvan dat aantygings van onbehoorlike optrede teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se eenheid vir openbare orde gemaak word. Hierdie aantygings moet as klagtes by die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ingedien word.

Wyngaard sê: “Ons organisasie beywer ons vir die regte van spesifiek bruin gemeenskappe. Ons kan daarom nie stilbly wanneer vergrype teen ons mense gepleeg word nie – selfs al is dit in ’n ander provinsie as waar ons hoofkantoor gevestig is.”

Kaapse Forum sal saam met die gemeenskap dophou of die metro, soos eergister deur die burgemeester onderneem, ‘n oplossing in werking gaan stel. Genoeg leë beloftes is al gemaak.