Kaapse Forum wil weens omkoop-bewerings hooggeregshof toe om ’n stokkie te steek voor Boland-rugby se top-kompetisie

Kaapse Forum het besluit om gehoor te gee aan die versoek van ontevrede klubs deur regsadvies in te win oor die moontlikheid om ’n stokkie te steek voor die Boland-rugbyunie se Top-12-uitspeelwedstryde van sy Groot Uitdaagbeker-kompetisie. Die trekking vir die uitspeelwedstryde is die afgelope Woensdag op Erfenisdag in Wellington gehou.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê die burgerregteorganisasie is deur klubs genader wat ongelukkig is daarmee dat die ondersoeke na bewerings van skeidsregter-omkopery nog nie afgehandel is nie. Die omkoop-bewerings het te doen met klagtes dat sommige skeidsregters glo betaling aangebied word deur klubs – spesifiek in die Groot Uitdaagbeker-kompetisie – om die uitslag van wedstryde te beïnvloed.

“Een van die klubs het deur die seisoen herhaaldelik skrywes aan die Boland-rugbyunie, asook die president, Bennie van Rooi, gerig,” sê Wyngaard. “Hulle is verseker dat die sake aandag geniet en ook, sowat ’n maand gelede, dat die ondersoekpaneel wat deur die unie na die omkoop-bewerings aangestel is, hulle sal kontak. Dit het nog nie gebeur nie.”

Kaapse Forum self is vroeër deur ’n prokureursfirma in die noordelike voorstede van Kaapstad genader om deel te hê aan ’n ondersoek wat die maatskappy namens SA Rugby sou doen. “Toe ons die afgelope week navraag doen oor waar sake staan, is ons skrywe deur ’n verteenwoordiger van SA Rugby beantwoord. In dié skrywe is Kaapse Forum meegedeel dat SA Rugby een van die land se grootste regsfirmas ENSafrica aangestel het ‘om ’n onafhanklike ondersoek na bewerings van wedstrydknoeiery te doen’.”

Wyngaard sê hierdie benadering deur SA Rugby word verwelkom omdat Kaapse Forum heel eerste aan mnr. Mark Alexander, president van SA Rugby, geskryf het en sy reaksie as “louwarm” ervaar het. “Nou het ons op papier ’n versekering van SA Rugby dat die nasionale beheerliggaam met Kaapse Forum saamstem oor ‘die ernstige aard van die bewerings’ en daarom ENSafrica aangestel het ‘om ’n deeglike onpartydige proses te lei in ooreenstemming met die toepaslike regs- en regulatoriese raamwerk’.”

Kaapse Forum is dit egter eens met die ontevrede klubs dat jy nie die Top-12-uitspele kan laat voortgaan terwyl die ondersoeke na beweerde omkopery voortduur en skeidsregters uit dieselfde Groot Uitdaag-poel aangestel word om die wedstryde te beheer nie.

“Ons het daarom besluit om regsadvies in te win oor die haalbaarheid van ’n Hooggeregshof-aansoek om ’n interdik te verkry vir die tydelike uitstel van die kompetisie totdat die ondersoeke afgehandel is,” sê Wyngaard. “Gebeur dit nie, beteken dit dat klubs wat moontlik benadeel is en daarom nie vir die Top-12-uitspeelwedstryde gekwalifiseer het nie, is die groot verloorders.

“Maar ons wil dit baie duidelik maak dat Kaapse Forum hierdie opsie nie ligtelik oorweeg nie omdat ons geensins ons gemeenskappe van hul rugby-vreugde wil ontneem nie. Ons sal dus nog ’n finale besluit neem nadat ons alle faktore in oorweging geneem het. Die feit is egter dat as daar bewyse van wedstrydknoeiery plaasgevind het, is dit ’n klap in die gesig van mense wat hul swaarverdiende geld gebruik om hekgeld te betaal en agter hul spanne aan te reis – net om dan te ervaar, soos wat beweer word, dat die uitslag vooraf deur bruin koeverte en ‘gratis’ hotelverblyf vir skeidsregters bepaal is.”

Kaapse Forum sê dit het intussen ook aan die lig gekom dat klubvoorsitters se steun by ’n onlangse spesiale vergadering moontlik op ’n onbehoorlike wyse bekom is vir ’n “mandaat” aan mnr. Bennie van Rooi, Boland-president, dat die kompetisie moet voortgaan en ook dat hy voortaan slegs met klubs hoef te kommunikeer. “Om sodanige mandaat van klubs te kry, moes klubbesture vooraf oor die kwessie waaroor gestem moet word ingelig word. Hulle vaardig dan die voorsitters of ’n ander klubverteenwoordiger af om by die vergadering in ooreenstemming met die bestuur se besluit ten gunste van of teen die kwessie op die sakelys te stem,” sê Wyngaard, wat self voorheen voorsitter van die Caledon Rugbyklub was en vertroud is met Boland-vergaderprosesse.

Hy sê: “Kaapse Forum is meegedeel dat wat by die vergadering gebeur het, was dat ’n kort bespreking plaasgevind het oor of die Top-12-kompetisie moes voortgaan en ook oor die ondersoeke na omkopery. Skaars ’n handvol van die meer as 200 klubvoorsitters het glo aan die bespreking deelgeneem en ander het onderlangs gebrom, maar geen stemming is gehou nie. Van Rooi het die toe atmosfeer geïnterpreteer as ’n aanduiding dat die klubs wil hê die kompetisie moet voortgaan. Hy het dit so in die vergadering aangekondig. Ek weet egter uit eie ervaring van die kultuur van vrees en viktimisering waaraan klubs in Boland onderwerp word en dat jy nie sommer onder daardie omstandighede openlike teenstemme sou kry nie. Klubs se oorlewing hang dikwels af van Boland se welwillendheid.”

Van Rooi het agterna by ’n mediakonferensie aangekondig dat die klubs aan hom ’n “massiewe mandaat” gegee het om met die kompetisie voort te gaan.

Kaapse Forum het by die kwessie betrokke geraak omdat die organisasie ontwikkelingswerk in gemeenskappe doen waar die Boland-klubs geleë is. Die organisasie het ook al by geleentheid skenkings aan die unie en klubs gemaak. “Mense in daardie gemeenskappe belê baie tyd en geld in hul geliefde sport. Hulle gaan Saterdae veld toe met die verwagting dat wedstryde op ’n eerlike wyse deur skeidsregters beoordeel gaan word. Wanneer uitslae vooraf bepaal is, word hulle en hulle klubs beroof van ’n regverdige uitslag,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum glo daar kan nie met ’n kompetisie voortgegaan word waaroor daar ’n donker wolk hang nie.