Pak uit, Boland! Kaapse Forum eis antwoorde oor refs en omkoopbewerings

Die Boland-rugbyunie sal nou, ná Kaapse Forum ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien het, moet antwoorde gee oor bewerings van omkopery en klagtes oor skeidsregters se hantering van wedstryde. Die burgerregteorganisasie se aansoek volg in reaksie op ernstige bewerings van wedstydknoeiery by dié unie.

Volgens die jongste gerugte het spesifieke skeidsregters na bewering omkoopgeld ontvang om sekere klubs te bevoordeel in dié unie se Groot Uitdaagreeks. Twee afsonderlike ondersoeke is reeds na aanleiding van dié bewerings van stapel gestuur en word tans onderneem deur die Boland-rugbyunie en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (SA Rugby).

Kaapse Forum wil deur die PAIA-aansoek toegang kry tot inligting rakende alle klagtes oor skeidsregters wat die afgelope twee seisoene by die unie ingedien is, sowel as inligting oor die optrede of ondersoeke wat na aanleiding daarvan gevolg of onderneem is.

Aldo Carelse, projekkoördineerder by Kaapse Forum, het die aansoek namens die organisasie ingedien. Volgens Carelse doen ernstige bewerings van wedstrydknoeiery by dié unie al lank die ronde. “Ons wil juis sien wat die unie gedoen het om bewerings te ondersoek en doeltreffend te hanteer,” verduidelik hy.

Luidens Kaapse Forum se PAIA-aansoek versoek die organisasie die volgende inligting:

  • Alle klagtes wat die Boland-rugbyunie in 2024 en tot dusver in 2025 van klubs ontvang het oor skeidsregters se beweerde onbehoorlike hantering van wedstryde.
  • Die notules van vergaderings waarby hierdie klagtes bespreek is.

“Kaapse Forum het aanvanklik oorweeg om namens die unie se klubs ’n interdik aan te vra om die Top 12-uitspeelwedstryde te stop. Dit was egter nie moontlik nie omdat klubs bang was vir intimidasie en viktimisering. Daar is daarom eerder besluit om die PAIA-roete te volg,” verduidelik Carelse.

Volgens Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, word daar met dié aansoek in die belang van die unie se klubs opgetree. “Ons is aan die kant van die klubs wat glo hulle is benadeel deur skeidsregters en wat glo dat hul kanse om aan die Top 12-reeks deel te neem daardeur in die wiele gery is,” verduidelik hy.

Carelse voeg by:“Indien die Boland-rugbyunie nie die inligting aan ons voorsien nie, kan ons net een afleiding maak – dat niks aan die klagtes gedoen is nie. Die feit dat ons boonop eers moes opvolg oor of die unie ons e-pos hieroor ontvang het, gee ook die indruk dat die unie se administratiewe huis nie in orde is nie.”

Hy benadruk dat Kaapse Forum bereid is om regstappe te doen indien Boland-rugbyunie sou weier om die versoekte inligting te voorsien.