Kaapse Forum skenk Puma-stewels aan Hoërskool Jan van Riebeeck se jong talent
Kaapse Forum is trots daarop om onlangs ’n skenking van Puma-rugbystewels aan jong, bruin leerlinge van die Hoërskool Jan van Riebeeck te kon maak. Dié stewels is ’n belegging in hul toekoms en potensiaal, op én van die veld af. Die skenking is moontlik gemaak deur Puma.
Hierdie gebaar is deel van Kaapse Forum se voortdurende verbintenis om jongmense in die Wes-Kaap by te staan met praktiese ondersteuning en geleenthede om hul volle potensiaal te bereik.
“Ons glo dat elke jong mens die kans verdien om hul drome na te jaag – of dit nou op die sportveld of in die klaskamer is. Hierdie inisiatief gaan oor meer as net stewels – dit gaan oor waardigheid, trots en hoop,” sê Aldo Carelse, projekassistent by Kaapse Forum.
“Wanneer gemeenskappe, skole en vennote saamstaan, kan ons werklik ’n verskil maak in jongmense se lewens. Dit is die tipe samewerking wat die toekoms van die Kaap versterk.”
Kaapse Forum doen ’n beroep op individue en organisasies om betrokke te raak by projekte wat gemeenskappe versterk en jong talent ondersteun.

