Kaapse Forum en Saai vat hande om bruin gemeenskappe met projekte op te voed

Kaapse Forum en die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai) het Dinsdag 2 Desember ’n samewerkingsooreenkoms aangegaan, wat tot voordeel is van die gemeenskappe wat hierdie instellings dien. Dié vennootskap sal dit moontlik maak vir bruin leerders en jong werkendes om deel te neem aan volhoubare nasionale projekte en sodoende blootstelling te kry aan internasionale geleenthede. Hierdie samewerking sal na verwagting vroeg volgende jaar begin.

Met hierdie vennootskap gaan Kaapse Forum en Saai, in samewerking met Saai se bestaande vennote, volhoubare projekte in bruin gemeenskappe – waaronder skole – van stapel stuur. Hierdie projekte, wat onder meer ’n groentetuin en pluimvee-boerdery sal insluit, gee aan gemeenskappe die geleentheid om vaardighede in die landbousektor op te doen.

Kaapse Forum het ’n holistiese ontwikkelingsplan waarvan skool- en gemeenskapsprojekte die kern is. Deel van hierdie ontwikkeling is die vestiging, uitbreiding en versterking van landbou-projekte. Blootstelling aan hierdie projekte op skoolvlak lei tot ’n dieper verstaan van al die geleenthede wat in die landbousektor opgesluit is. Daar is ook buitelandse geleenthede waartoe studente toegang sal hê, indien hulle ’n loopbaan in hierdie sektor sou oorweeg.

Luidens dr Theo de Jager, voorsitter van Saai, is dié organisasie se vennootskap met Kaapse Forum ’n verlengstuk van hul snelgroeiende voetspoor in die Wes-Kaap, wat veral in 2025 toegeneem het. Buiten Saai se betrokkenheid by landbouskole en -studente, het die Lamb Champs-kompetisie, wat in samewerking met Pick n Pay en Toyota by die Hoër Boland Landbouskool in die Paarl aangebied is, alle verwagtinge oortref.

“Ons getalle groei ook onder bruin boere, veral in die vrugte-, rooibostee- en skaapbedrywe, en vandaar die noodsaak om met Kaapse Forum hande te vat,” sê De Jager. “Saai se verantwoordelikheid teenoor familieboere strek wyer as tegniese landbousake. Dit raak ook gemeenskapsbelange.”

Volgens Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, wil hulle met hierdie vennootskap vir meer bruinmense toegang gee tot ’n toekoms in landbou – nasionaal of internasionaal – deur netwerkgeleenthede te skep.

Dit verg ’n gemeenskap om ’n kind groot te maak. Ons is deel van die gemeenskap wat die kinders van vandag moet voorberei op ’n blink toekoms – ’n toekoms waar daar billike geleenthede is vir elkeen wat bereid is om hard te werk. Dit is vir ons ’n voorreg om saam met Saai te werk en ons hulpbronne saam te kan voeg om die sukses van hierdie ooreenkoms te maak,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.