Afrikaanssprekendes trek saam vir oop gesprek oor ‘kwessies in die kryt’ en ‘twisgeskrifte’

Rolspelers uit Afrikaanssprekende gemeenskappe kom hierdie naweek byeen om gesprek te voer oor onderlinge struwelinge wat deur hedendaagse kwessies veroorsaak word. Dit sluit in die Afrikaner-verklaring van voor die Mei 2024-verkiesing en die Afrikaans Amptelik 100-veldtog tot die meer onlangse “Nie in ons naam nie”-brief.

Die byeenkoms begin Vrydag om 14:00 by die Protea Hotel op Stellenbosch en duur tot Saterdag (9:00 tot 13:00).

Die geleentheid word opgedra aan die pas ontslape dr Franklin Sonn, oudambassadeur, onderwysleier en anti-apartheid kryger. Hy word wyd gehuldig as ’n vredemakelaar in die Afrikaanssprekende-omgewing en onder Afrikaanssprekendes en ander gemeenskappe.

Regter Steven Majiedt van die Konstitusionele Hof sal Vrydagmiddag se sessie toespreek oor “Die raamwerk wat die Grondwet stel vir die uitleef van Afrikaanssprekendheid”. ’n Ope gesprek – eerlik en indringend – volg daarop.

Die inleidende spreker vir Saterdag se sessie is prof. Francis Petersen, vise-kanselier en rektor van die Universiteit van Pretoria, wat sal praat oor “Saamdoen in Afrikaans op gemeenskapsvlak”. Deelnemers van hierdie sessie kom uit verskillende Afrikaanssprekende gemeenskappe en sal beste praktyke met mekaar deel. Hulle sal ook aangemoedig word om nuwe vennootskappe te vorm.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê die byeenkoms is vanjaar se weergawe van dié burgerregteorganisasie se jaarlikse Hoerikwaggo-indaba. Die indaba bied rolspelers en verteenwoordigers van verskeie Afrikaanssprekende gemeenskappe die geleentheid om met mekaar in gesprek te tree en saam oplossings vir kwessies wat tans Afrikaanssprekendes raak, te bedink.

“Ons fokus vanjaar is beïnvloed deur die openbare koppestampery wat sedert die ondertekening van die Afrikaner-verklaring voor verlede jaar se verkiesing plaasgevind het. Dit het veral hewige kritiek vanuit bruin Afrikaanssprekendes se geledere ontketen. Ons het ’n voortsetting daarvan gesien in die verdeelde reaksies – deur wit én bruin – op onder meer die Afrikaans Amptelik 100-veldtog, sowel as die Afrikaner-memorandum wat in Washington aan die Trump-administrasie oorhandig is.”

Wyngaard sê die jongste geval waaroor Afrikaanssprekendes hare gekloof het, was die “Nie in ons naam nie”-ope brief. “Soos die ander genoemde kwessies in die kryt – ’n uitdrukking wat ek by N.P. van Wyk Louw leen – lei dit jammerlik daartoe dat mense mekaar slegsê. Gevolglik praat die rolspelers gedurig óór mekaar in byvoorbeeld media-onderhoude, maar nie mét mekaar nie. Ons wil rolspelers met die naweek se byeenkoms aanmoedig om na mekaar te luister en mekaar te probeer verstaan – éérder as om voort te gaan met die gedurige etikettering van die ander.”

  • Die media is welkom om die geleentheid by te woon. In Vrydag se sessie sal die Chatham House-reëls geld, maar onderhoude kan met deelnemers gevoer word.
  • Bevestig asseblief bywoning en rig medianavrae aan Elizma Arendse op die WhatsApp-nommer 066 473 4431.