Behoeftige graadeens van Morningstar-gemeenskapsentrum durf grootskool met nuwe tasse en skryfbehoeftes aan, danksy Kaapse Forum

Vyftien behoeftige graad 1-leerders van die Morningstar-gemeenskapsentrum in Durbanville-omgewing het hul grootskoolloopbaan met splinternuwe skooltasse gevul met skryfbehoeftes begin. Kaapse Forum het hierdie tasse vandeesweek aan dié graadeens geskenk wat laerskool ampertjies sonder ’n tas én skryfbehoeftes sou aanpak.

Toegang tot gehalte onderrig is belangrik en onontbeerlik, veral by skole in die Durbanville-gemeenskap, benadruk Bernard Pieters, Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering. “Navorsing het al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke tot laer werkloosheidsvlakke lei. Daarom meen Kaapse Forum sal hierdie skenking van skooltasse ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen wat by die projek baat.” 

Die heel basiese items in ’n graad 1-leerder se skryfbehoeftepakket kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. Luidens die South African Child Gauge 2025 raak hongersnood sowat 330 000 kinders in die Wes-Kaap. Dié provinsie is ook die enigste in die land waar die hongersnoodsyfer onder kinders nie die afgelope twee dekades afgeneem het nie. Dit in ag genome, is dit te verstane dat duisende leerders se ouers net eenvoudig nie die fondse het om skryfbehoeftes aan te koop nie. Dit is ook ’n sterk aanduiding dat landbou weer oorweeg moet word om hongersnood te takel.

Vanjaar se projek is weer finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust, AfriForum, die Trust vir Afrikaanse Onderwys en PEP, wat beduidende afslag op die skooltasse en die inhoud daarvan gegee het. Kaapse Forum kon vanjaar dus meer as dubbel soveel tasse as verlede jaar uitgee. Danksy hierdie projek kan 400 skooltasse met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk aan hulpbehoewende leerders in die Wes-Kaap geskenk word.

“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil in hul lewens sal maak, veral waar hulle nou amptelik hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waarop die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.

Raak vandag nog by Kaapse Forum betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.