Bela-ramp: ANC moet hom staal – gemeenskappe gaan nie toegee nie 

Die ANC-regering moet hom staal, want uiteenlopende gemeenskappe staan nou vir die eerste keer werklik saam en sal nie toegee dat die gewraakte Bela-wetgewing in ’n Bela-ramp omgeskakel word nie. Só sê die burgerregteorganisasie Kaapse Forum nadat dit pas bekend geword het dat die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (bekend as die Bela-wetsontwerp) vanmiddag laat met 223 stemme teenoor 83 in die Nasionale Vergadering aanvaar is.

Kaapse Forum het vandag saam met AfriForum, Solidariteit, Solidariteit Helpende Hand, Fedsas sowel as verskeie politieke partye insluitend die VF Plus, DA en ACDP by die parlement teen die Bela-wet betoog. Hierdie samehorigheid is volgens Kaapse Forum die geheime wapen waarvoor die ANC-regering nie gereed gemaak het nie. “Uiteenlopende organisasies met diverse ondersteuningsbasisse het vandag getoon dat hulle verenig staan in die stryd teen die Bela-wet. Indien hierdie wetsontwerp uiteindelik deurgevoer word, sal dit alle kinders – ongeag van hul ouers se politieke affiliasie of voorkeure – se toekoms ernstig benadeel. Dit sal ons laat met ’n ramp in die onderwys wat onuitwisbare skade gaan aanrig,” verduidelik Bernard Pieters, bestuurder van gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum. Hy benadruk dat dié organisasie intussen met sy regspan gaan konsulteer oor die volgende stap om toe te sien dat die wetsontwerp in sy spore gestuit word.

Die Bela-wetsontwerp is in September deur ANC- en EFF-lede in die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys aanvaar.

Kaapse Forum eis onder meer steeds dat gemeenskappe sélf oor die toekoms van hul skole moet kan besluit, en hou vol dat die huidige stelsel ’n perfekte model binne die demokratiese bestel is. Ouerbeheerliggame word deur hul ouergemeenskappe verkies en is daarom op grondvlak die mees geskikte mense om te besluit oor toelatingsvereistes, taalbeleid en die aankoop van leermateriaal. Die Bela-wetsontwerp wil die magsbalans omdraai en die finale besluit ten opsigte van hierdie sake in die hande van die departementele hoofde plaas.

’n Oorweldigende aantal individue en organisasies het reeds daarop gewys dat die konsepwet klousules bevat wat ’n ernstige bedreiging inhou vir die toekoms van gehalte onderrig sowel as vir gemeenskappe en ouers se besluitnemingsmagte oor hul kinders se onderwys.

“Daar was vandag ’n groot hoeveelheid verteenwoordigers wat betoog het teen dié omstrede konsepwet. Dit is verblydend om te sien dat verskeie organisasies saam die Kaapse Forum standpunt daarteen inneem. Ons dring by gemeenskappe daarop aan om nou met groter erns voort te gaan om hul stem dik te maak teen die Bela-wet,” sê Pieters.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.