Bela-wetgewing: Gemeenskappe moet sélf kan besluit, eis Kaapse Forum

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het vandag aangekondig dat dit, na aanleiding van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys se aanvaarding van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die Bela-wet), nou kragte sal saamsnoer met ander organisasies wat verdere optrede teen die regering oorweeg. Die organisasie eis onder meer dat gemeenskappe sélf oor die toekoms van hul skole moet kan besluit. Hiermee voeg Kaapse Forum sy stem by ’n reeks ander organisasies wat dié wetsontwerp ten sterkste veroordeel.

Kaapse Forum erken die belangrikheid daarvan om die langdurige onderwysuitdagings te takel en hou vol dat die verbetering van die onderwysstelsel ’n prioriteit is. Hoewel Kaapse Forum verheug is dat die ANC ná 30 jaar iets wil begin doen aan die krisis in die onderwys, is dié organisasie oortuig dat die Bela-wetsontwerp nie ’n praktiese of realistiese oplossing vir hierdie komplekse probleem bied nie.

In sy huidige formaat skiet die Bela-wetsontwerp ver tekort, meen die organisasie. Kaapse Forum benadruk dat daar reeds oor taal- en kulturele grense heen bewys is dat ’n gemeenskapsgefokusde benadering noodsaaklik is vir betekenisvolle verandering. Die organisasie voer daarom aan dat die volgende elemente van kritieke belang in dié saak is:

  1. Gemeenskapsoutonomie: Die Bela-wetsontwerp bemagtig nie gemeenskappe in die Wes-Kaap voldoende om beheer oor hul onderwysstelsels te neem nie. Sonder ’n gemeenskap se inkoop, sal daar ook geen gemeenskapsbetrokkenheid wees nie. Hierdie is die eerste en belangrikste vereiste in die bestuur van suksesvolle skole.
  2. Hulpbronverdeling: Ten spyte van die afgelope 30 jaar se aansienlike verwaarlosing van onderwys in die Wes-Kaap, en in Suid-Afrika in die geheel, verskaf die Bela-wetsontwerp nie duidelike meganismes vir billike hulpbronverdeling nie. Dit is noodsaaklik dat hulpbronne regverdig verdeel word om historiese ongelykhede doeltreffend te takel.
  3. Plaaslike inisiatiewe: Die Bela-wetsontwerp beklemtoon nie die belangrikheid van plaaslike inisiatiewe en selfhelppogings om onderwys te verbeter nie. Kaapse Forum glo in die bevordering van gemeenskapsgebaseerde projekte wat onderwysuitdagings direk op voetsoolvlak die hoof sal bied.
  4. Menseregte en demokrasie: Werklike onderwyshervorming behoort ’n verdieping van die demokrasie mee te bring deur besluitnemingsmag na die laagste moontlike vlak af te wentel. Die Bela-wetsontwerp behoort gewysig te word om aan gemeenskappe meer seggenskap in die vormgewing van die toekoms van onderwys te gee.

“Die regering probeer tans om ’n disfunksionele stelsel te herverpak deur mag weg te neem van plaaslike gemeenskappe. Sentralisering het tot dusver geen suksesverhale in die huidige regering opgelewer nie. Dit sal beter wees om nou eerder die proses te staak en die probleme te identifiseer, as om die simptome met radikale sogenaamde oplossings te probeer behandel,” sê Bernard Pieters, verbonde aan die Kaapse Forum.

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.