Bela-wetgewing: Volgehoue druk vir magsentralisasie is resep vir mislukking
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het in die verlede saam met ander organisasies en die publiek sterk standpunt in geneem teen die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet). Met die parlement se regsafdeling wat die weg gebaan het vir die komitee om voor te gaan, dwing dit die Kaapse Forum om verdere stappe teen die regering te oorweeg.
’n Voorlopige verslag, wat onlangs in die parlement deur die portefeuljekomitee oor basiese onderwys aanvaar is, wys dat 78% van Wes-Kaapse deelnemers die wetsontwerp verwerp. Die wetsontwerp poog om ’n oplossing te skep sonder om enige kern probleme in die onderwys aan te spreek. Die sentralisering van mag weg van die skoolgemeenskap na politici sal die relatiewe neutraliteit van skoolbesture vervang. Skole sal niks anders as politieke bates wees nie.
“Hoewel daar enkele goeie punte is, oorskadu dit die feit dat die beleid poog om ’n pleister op ’n wesenlike wond – naamlik die huidige onderwysstelsel – te plak,” sê Bernard Pieters, verbonde aan die Kaapse Forum.
“Die regering probeer tans om ’n disfunksionele stelsel te herverpak deur verdere mag weg te neem vanaf plaaslike gemeenskappe. Sentralisering het sover geen sukses verhale in die huidige regering nie. Dit sal beter wees om nou die proses te staak en die probleme te identifiseer eerder as om die simptome met radikale ‘oplossings’ te probeer behandel,” sluit Pieters af.
Die Kaapse Forum sal die proses fyn dophou en nie huiwer om regstappe te oorweeg as die wetsontwerp verder vorder nie. Indien suksesvol sal dit skole ontneem van enige betekenisvolle grondvlak verteenwoordiging en dus ’n bespotting maak van enige demokratiese proses.
Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.