Bheki Cele knak onder druk van Kaapse Forum en Gerrie Nel in Charl Kinnear-ondersoek

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het vroeër vandag tydens ’n mediakonferensie in Kaapstad bevestig dat daar nou, drie jaar ná die koelbloedige moord op lt.kol. Charl Kinnear, uiteindelik vordering gemaak is in dié saak se interne ondersoek en dat die verslag en ondersoek nou afgehandel is. Dit volg enkele dae nadat Kaapse Forum aangekondig het dat dié burgerregteorganisasie AfriForum se privaat vervolgingseenheid en die hoof van dié eenheid, adv. Gerrie Nel, namens die Kinnear-gesin opdrag gegee het om die vertraging in dié saak te ondersoek.

Lt.kol. Kinnear was ten tyde van sy dood hoof van die ondersoekafdeling van die SAPD se teenbende-eenheid. Hy is op 18 September 2020 voor sy huis in Bishop Lavis vermoor.

“Dit is kommerwekkend dat ’n burgerregteorganisasie soos Kaapse Forum eers moes ingryp alvorens die polisie vordering in die Kinnear-saak kon maak. Die tyd vir ’n gesprek rakende die afwenteling van polisiëringsmagte na provinsiale vlak is nou meer nodig as ooit te vore,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Kaapse Forum hou egter steeds vol dat vandag se aankondiging nie beteken dat druk in dié verband verminder gaan word nie. Die organisasie sal daarom later vandeesweek formeel sy volgende stappe rakende die Kinnear-saak aankondig.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.

(Foto: Dickelbers, Wikimedia Commons, 2015)