Bruin mense moet uit Wes-Kaapse landbou

Nasionaal gaan ongeveer een uit vier bruin werknemers vervang moet word ten einde die minister van arbeid se sektorale teikens te haal wat in die voorgestelde indiensnemingsregulasies ingevolge die nuwe raswet aangedui word. Dit is een van die skokfeite uit ʼn verslag wat die Kaapse Forum en Solidariteit vandag in Kaapstad bekend gemaak het.

Voorts sal bruin werknemers in die landbousektor in die Wes-Kaap boonop minder gemaak moet word, en talle bruin vroue in die Wes-Kaap sal vervang moet word.

Maatskappye wat nasionaal sake doen en nasionale staatsdepartemente gaan die nasionale teikens in die Wes-Kaap toepas. In Gauteng sal daar van 85 000 bruin werknemers ontslae geraak moet word. Geen bruin werknemer mag in Limpopo aangestel word nie.

Hierdie syfers is afkomstig uit ʼn verslag wat die Kaapse Forum en Solidariteit uitgereik het wat die moontlike impak van die konsepregulasies ontleed wat die minister van arbeid ingevolge die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming voorgestel het. Dié verslag het ʼn spesifieke fokus op die moontlike impak van die voorgestelde regulasies op die bruin arbeidsmark.

“Vir ons van spesifieke belang is die impak op die bruin gemeenskap, maar meer spesifiek in die Wes-Kaap. Alhoewel die data wys dat daar teoreties meer bruin werkers in die Wes-Kaap moet wees, is dit oëverblindery,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van die Kaapse Forum.

“Die minister se teikens vereis dat bruin vroue in verskeie sektore deur swart of bruin mans vervang sal moet word. In die Wes-Kaap alleen sal een uit vier bruin vroulike gesondheidswerkers, een uit agt bruin vroulike werkers in die verblyf- en voedselsektor en een uit tien bruin vroulike werkers in handel vervang moet word om die minister se teikens te haal. So ook sal geen nuwe bruin aanstellings in die landbou in die Wes-Kaap gemaak kan word nie, want dan sal maatskappye nie meer aan die minister se teikens voldoen nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

“Hierdie teikens is tekenend van die ANC wat direk in die bruin gemeenskap se werkplekke probeer inmeng met amptenare in die Uniegebou wat nou wil besluit hoe die Kaap sake moet doen. Ons verwerp sulke sentrale beplanning van die ekonomie en beywer ons meer en meer vir federalisme,” sê Wyngaard.

Alhoewel ondernemings wat primêr in een provinsie werksaam is, kan kies of hulle die provinsiale of nasionale teikens toepas, is enige onderneming wat in meer as een provinsie werksaam is outomaties verbind tot die nasionale teiken.

“Indien die minister se teikens toegepas sou word op die arbeidsmark soos dit tans daar uitsien, sal ongeveer een uit vier bruin werknemers op die boonste vier posvlakke, volgens nasionale teikens, hulle poste moet ontruim. Veral bruin werknemers by werkgewers wat net in die Wes-Kaap sake doen, en bruin werknemers wat in een of twee van die ander provinsies werksaam is, gaan volgens die konsepregulasies geteiken word,” sê Mulder. Berekeninge in die verslag toon dat ongeveer 85 000 bruin werknemers in Gauteng vervang sal moet word om die minister se teikens te haal. So ook sal daar nasionaal ongeveer een uit twee bruin werknemers in landbou, vervaardiging, handel en finansies volgens die minister se sektorale teikens vervang moet word.

“Die boodskap wat die ANC met dié teikens aan die bruin gemeenskap stuur, is duidelik – julle sal in die Wes-Kaap verdra word, mits julle in die regte bedrywe werk. In die res van die land en die ekonomie is julle nie welkom nie,” sluit Wyngaard af.

  • Klik hier om die verslag af te laai