Cornal Hendricks, ons Bolandse rugbyheld, het die onmoontlike vermag – Kaapse Forum

Klankgreep: Heindrich Wyngaard (Afrikaans)

Die talentvolle Bolandse rugbyster Cornal Hendricks was, volgens die burgerregteorganisasie Kaapse Forum, die onteenseglike bewys dat die onmoontlike behaal kan word ten spyte van die uiters moeilike omstandighede wat talentvolle bruin sportlui moet oorkom op hul pad na sukses. Die organisasie, wat Hendricks verlede jaar met ’n Kaapse Kampioen-toekenning vereer het, het vandag hulde gebring aan dié oud-Springbokrugbyspeler wat gisteraand skielik, vermoedelik weens ’n hartaanval, oorlede is. Hendricks het in sy loopbaan vir onder meer die Blue Bulls, die Springbokke se 15-tal en die Blitsbokke uitgedraf.

Volgens Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, het Hendricks uit ’n nederige agtergrond gekom waar daar dikwels ’n tekort aan sowel materiële as emosionele ondersteuning was. Ten spyte daarvan het dié sportman en kranige vleuel sy weg na die hoogste sport bereik en in 2014 op 26-jarige ouderdom vir die eerste keer die Springbok-trui oor sy kop getrek.

Wyngaard beklemtoon dat Hendricks iemand was wat hom nie laat onderkry nie. Selfs die skoknuus wat hy in 2015 ontvang het, toe dokters om aangeraai het om sy rugbystewels weens ’n ernstige hartkwaal op te hang, het nie dié talentvolle speler van stryk gebring nie.  Vier seisoene later, in 2019, het Hendricks weer – danksy die destydse Bulls-afrigter, Jake White – ’n tweede kans gekry om rugby op top vlak te speel.

Hendricks is teen die einde van verlede jaar terug verwelkom in die Boland waar hy sy rugbyloopbaan begin het. Dié tuiskoms het aan hom die geleentheid gegee om nader aan die huis as ’n mentor vir jonger spelers op te tree. Hy is hiervoor, en vir die inspirasie wat hy oor soveel jare aan die kinders van veral die Kaapse gemeenskappe gebied het, in 2024 met Kaapse Forum se Kaapse Kampioen-toekenning vereer.

“Hendricks se nalatenskap moet as ’n herinnering dien aan kinders uit dieselfde agtergrond as syne dat alles in die lewe moontlik is as jy bereid is om hard te werk en nie toe te laat dat struikelblokke of uitdagings jou van koers af laat gaan nie,” verduidelik Wyngaard.

“Sy dood op so ’n jong ouderdom is ’n yslike skok en tragedie. Kaapse Forum simpatiseer met die uitgebreide Hendricks-familie en wens hulle alle sterkte toe met hul reuseverlies,” sluit Wyngaard af.