Helen Zille, ander rolspelers soek oplossings vir misdaad en hoe vertroue in die polisie herstel kan word

Die voormalige premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, sal as openingspreker optree by komende Hoerikwaggo-indaba oor veiligheid, waartydens rolspelers oplossings vir misdaad gaan bespreek.

Dié indaba, wat deur die burgerregteorganisasie Kaapse Forum aangebied word, word vernoem na die Khoisan-naam vir Tafelberg (“berg in die see”). Dit is ’n opvolg van verlede November se byeenkoms, waar die teoloog en struggle-ikoon dr. Allan Boesak die hoofspreker was.

Hierdie keer is die oorhoofse tema “Die herstel van vertroue in die polisie” en watter rol gemeenskappe in die bekamping van misdaad kan speel.

Zille sal praat oor die lesse wat geleer is sedert die kommissie van ondersoek in 2014 hul verslag na polisiëring in Khayelitsha bekend gestel het.

Polisiëringskundiges, soos die voormalige Wes-Kaapse kommissaris adv. Lennet Max, sal reageer op die buitensporige gebruik van mag deur die polisie en onlangse voorvalle waartydens vermeende misdadigers in ‘n skietery met die polisie dood is. Dit is die onderwerp van sy proefskrif, waarvoor hy eersdaags sy Doktorsgraad ontvang.

Die indaba vind Saterdag, 30 November 2024, vanaf 9vm. tot 1nm. by die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool in Carl Cronjé-rylaan in Bellville plaas. Die finale program met alle sprekers en hul onderwerpe word Donderdag, 28 November, bekend gestel.