Kaapse Forum-aansoek in Konstitusionele Hof plaas druk op parlement oor provinsiale referendums
Kaapse Forum se aansoek in die Konstitusionele Hof oor provinsiale referendums plaas nou meer druk op die parlement om wetgewing in te stel wat kan verseker dat inwoners van provinsies se steun getoets kan word oor sake wat hulle raak. Die organisasie eis dat die Wysigingswetsontwerp op die Verkiesingskommissie met dringendheid en in ooreenstemming met die Grondwet in werking gestel te word.
Kaapse Forum het hom in Mei 2023 tot die hof gewend om sekerheid te kry oor of premiers wel self referendums mag hou. Dít het gekom ná Kaapse Forum en die Wes-Kaapse regering regsmenings ingewin het wat verskillende resultate opgelewer het.
Hoewel Artikel 127(1)(f) van die Grondwet bepaal dat premiers die mag het om referendums “in ooreenstemming met nasionale wetgewing” te hou, verwys die Wet op Referendums van 1983 egter slegs na die “Staatspresident” se reg om ’n referendum te mag roep.
Kaapse Forum het daarom in sy aansoek die Konstitusionele Hof versoek om die Wet op Referendums as ongrondwetlik te verklaar en om die parlement opdrag te gee om die korrekte wetgewing in te stel. In sy aansoek lys Kaapse Forum die volgende respondente: die premier van die Wes-Kaap, pres. Cyril Ramaphosa, die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, speaker van die Nasionale Vergadering, die Verkiesingskommissie, minister van Binnelandse Sake, asook die premiers van die ander agt provinsies.
Die hof het in sy bevel die toevoeging van die agt premiers tot Kaapse Forum se aansoek as geregverdig bevind aangesien hulle “genoegsame belang by die saak het”. Die hof het verder bevind dat Kaapse Forum se aansoek, “sowel in terme van [die Konstitusionele Hof se] eksklusiewe jurisdiksie en direkte toegang [tot die hof] en in terme van die meriete daarvan, in die algemeen voldoende sou wees om die aansoek aan te hoor”.
Die Konstitusionele Hof het egter in sy oorweging van Kaapse Forum se aansoek in ag geneem dat die Wysigingswetsontwerp oor die Verkiesingskommissie tans voor die parlement dien. Dit is in Junie 2023 deur dr. Annelie Lotriet, die DA-LP, as ’n private ledewet ingedien en het ook ten doel om te verseker dat die nodige wetgewing vir provinsiale referendums ingestel word.
Kaapse Forum se aansoek sal dus nie op hierdie stadium deur die hof aangehoor word nie, maar die hof het dit in sy bevel duidelik gemaak dat die organisasie daarop geregtig is om die hof weer te nader indien die parlement nie “binne ’n redelike tydperk” wetgewing aanvaar om premiers in staat te stel om provinsiale referendums te roep nie. Ook in die geval dat die wetgewing wat dan wel ingestel word, “nie in ooreenstemming met die Grondwet is nie” kan Kaapse Forum na die Konstitusionele Hof terugkeer.
Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê in sy reaksie op dié bevel dat Kaapse Forum dankbaar is dat die deure van die Konstitusionele Hof nou geopen is vir hierdie belangrike saak. “Burgerregteorganisasies kan nie net terugsit en toeskouers wees van die UFC-geveg tussen die nasionale regerende party en die party wat die Wes-Kaap regeer nie. Ons het ’n verpligting om te verseker dat inwoners van die provinsies ook in die kryt kan klim om hulle steun oor kwessies wat hulle ten nouste raak deur provinsiale referendums te toets.
Volgens Wyngaard sal Kaapse Forum in samewerking met ander burgerlike organisasies en partypolitieke rolspelers die parlementêre proses met valkoë dophou om te verseker dat uitvoering gegee word aan die Konstitusionele Hof se bevel. “Die jaar waarin Suid-Afrika dertig jaar van demokrasie vier, moet ook die jaar wees waaring landsburgers op alle grondwetlikverskanste regte moet kan aanspraak maak.”