Kaapse Forum begin regsproses teen Maties

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 10 Maart ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA)  teen die Universiteit Stellenbosch (US) gebring. Dié aansoek gaan oor beweerde insidente waar taaldiversiteit by formele en informele aangeleenthede by die universiteit verhoed is.

Dié PAIA-aansoek volg ná onlangse klagtes sowel as soortgelyke beweerde insidente in die verlede by hierdie instelling. Tans blyk daar nie ’n antwoord of oplossing te wees nie, dus is besluit om die aansoek te bring om duidelikheid oor die kwessie te kry.

“’n Belegging in die jeug is ’n belegging in die gemeenskap,” sê Bernard Pieters, koördineerder vir die Kaapse Forum. “Die Kaapse Forum het verskeie fokusareas, maar die onderrig van die jeug is vir ons ’n dringende prioriteit. Aangesien die Kaapse Forum gelyke geleenthede ondersteun, is dit vir ons belangrik dat vryheid van taalassosiasie, vryheid van uitdrukking en spraak beskerm moet word vir ’n gesonde en stabiele samelewing. Trots, ’n goeie selfbeeld en selfrespek kan nie gekweek word in ’n samelewing waar minderhede onderdruk word om tot ’n sentrale ideologie te konformeer nie,” sluit Pieters af.

Die Kaapse Forum ondersteun taaldiversiteit en erken die rol wat vryheid van spraak in ’n gesonde en gelyke samelewing speel. Daarom is dit belangrik om die oorsprong van die aantygings te vind en nie slegs oor die gevolge te debatteer nie.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za, of sluit by www.kaapseforum.co.za aan.