Kaapse Forum belê in leerders se toekoms

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 6 Februarie deur ’n borgskap van Pencafe, skryfbehoeftes aan die Morningstar-gemeenskap voorsien.

Gemeenskapsleiers van die Morningstar-gemeenskap het die Kaapse Forum gekontak om verdienstelike studente met skryfbehoeftes te help. Dié skryfbehoeftes is deur Pencafe aangekoop en elkeen van hierdie studente kon ’n volledige stel skryfbehoeftes kry.

“’n Belegging in die jeug is ’n belegging in jou gemeenskap,” sê Tommy van Zyl, koördineerder vir die Kaapse Forum. “Die Kaapse Forum het verskeie fokusareas, maar die onderrig van die jeug is vir ons ’n dringende prioriteit. Aangesien die Kaapse Forum gelyke geleenthede ondersteun was dit vir ons belangrik om hierdie verdienstelike studente te help. Trots, ’n goeie selfbeeld en selfrespek wat sommige huislike omstandighede kniehalter moet nooit ’n leerder se sukses belemmer nie,” sluit Van Zyl af.

“Dit is vir ons ’n voorreg om aan ’n gemeenskap iets te kan teruggee wat ons, by Pencafe ondersteun. Saam is ons sterker, en saam bou ons aan ’n beter toekoms in Durbanville,” sê Nyreen Koen, eienares van Pencafe.

Die Kaapse Forum ondersteun hierdie gemeenskap asook ander inisiatiewe om leerders soos dié, waar moontlik, te ondersteun. Deur in gemeenskappe terug te ploeg en self verantwoordelikheid vir die omgewing te neem, bou ons aan ’n meer veerkragtige gemeenskap.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.