KAAPSE FORUM BETREUR DIE DOOD VAN DIE HISTORIKUS PROF. HENRY “JATTI” BREDEKAMP

Die bruin gemeenskap het vandag een van sy belangrikste historici verloor met die heengaan van prof. Henry “Jatti” Bredekamp.

Kaapse Forum eer hom as iemand wat deur sy werk by die Universiteit van Wes-Kaapland en Iziko-museums verseker het dat die geskiedenis van die land se inheemse mense prominensie kry. Hy was veral ’n kundige op die gebied van die Khoisan en Griekwas, asook oor die Morawiese sendingstasie in Genadendal waar hy gebore is.

Prof. Jatti se dood moet ’n wekroep wees aan bruin gemeenskappe dat sy werk voortgesit moet word deur ’n nuwe geslag navorsers en geskiedskrywers in dié gemeenskappe waar nie almal altyd oor voldoende kennis oor hul erfenis beskik nie.