Kaapse Forum bied eersdaags opleiding ná paartjie se noodhulpkennis vrou se lewe red
Kaapse Forum se hoof van Gemeenskapsaktivering, Bernard Pieters, en sy vrou, Petro, se uitgebreide noodhulpkennis oor lewensreddende KPR het die afgelope naweek (Saterdag, 11 Oktober) ’n vrou se lewe in Langebaan gered. As deel van Kaapse Forum se verbintenis tot en bevordering van gemeenskapsveiligheid het dié organisasie hande gevat met AfriForum om veiligheidsopleiding, wat noodhulpopleiding insluit, aan die Kaapse gemeenskap te bied.
Bernard en sy vrou was saam met familie op die strand toe twee vroue in die middel van die Langebaan-lagune in die moeilikheid beland het. Die paartjie het in die rigting van die vroue beweeg en dadelik tot aksie gespring om hulle van verdrinking te red. Dit was in daardie stadium onmoontlik om nooddienste te ontbied, aangesien daar nie behoorlike opvangs in die gebied was nie. Terwyl Bernard ’n familielid, Johan Nortjé, om hulp genader het, het hulle ook daarin geslaag om ’n verbygaande vissersboot se aandag te trek. Nortjé het in sy kano een van die vroue bereik en uit die water gered. Die verbygaande vissersboot het die tweede vrou, wat leweloos in die water gelê het, gered.
“Teen die tyd wat ons die vrou bereik het, was sy reeds vir ’n onbekende tydperk bewusteloos in die water. Omdat die vissermanne nie geweet het hoe om KPR toe te pas nie, het ek op die boot gespring en met mond-tot-mond-asemhaling en kompressies begin,” sê Bernard.
Die boot het toe ook vir Petro opgelaai, waarna die paartjie om die beurt lewensreddende KPR toegepas het totdat hulle ’n polsslag kon voel. Nooddienste het met hul aankoms by die hawe KPR oorgeneem en meer suurstof toegedien. Die vrou, wat gehospitaliseer is, is intussen ontslaan en aan’t herstel.
“Ons is net so dankbaar dat albei vroue volledig herstel het en dat al die rolspelers teenwoordig ’n koelkop gehou het. Elkeen se bydra en noodhulpkennis was krities vir hierdie suksesvolle uitkoms,” sê Bernard.
In ’n poging om ’n groter deel van die Kaapse gemeenskap se kennis en vaardighede met betrekking tot veiligheid uit te brei, gaan Kaapse Forum in die nuwejaar in samewerking met AfriForum noodhulpopleiding aan gemeenskappe bied. Hierdie opleiding, wat gratis aan die gemeenskap gebied word, sal individue met die vaardighede toerus om slagoffers in noodgevalle te stabiliseer totdat nooddienste kan oorneem.
“Soos in hierdie geval, waar mediese hulp nie dadelik beskikbaar was nie, wil Kaapse Forum gemeenskappe in staat stel om ’n verskeidenheid mediese noodgevalle te hanteer wanneer hulle die enigste linie van verdediging is. Met hierdie kennis kan gemeenskappe ’n veilige en selfstandige omgewing kweek,” sluit Bernard af.
Meer inligting oor die opleiding volg eersdaags. Raak intussen vandag nog by Kaapse Forum betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit by www.kaapseforum.co.za aan.