Kaapse Forum doen beroep vir staatsbegrafnis vir voormalige ambassadeur dr Franklin Sonn

Die burgerlike organisasie Kaapse Forum het ’n skrywe aan President Cyril Ramaphosa sowel as die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gerig om te versoek dat Suid-Afrika se voormalige ambassadeur na die VSA, dr Franklin Sonn, met ’n staatsbegrafnis vereer word.

Dr Sonn, wie Saterdag in die ouderdom van 86 gesterf het, is deur Ramaphosa geprys as lid van die Nasionale Orde van die Boabab wat homself onderskei het in leierskapsrolle in onderwys, politiek, en besigheid. Ramaphosa het gesê dat Sonn ’n anti-apartheid kryger was en ’n baanbrekerswerk gedoen het ten opsigte van breë-gebaseerde ekonomiese bemagtiging en ’n aktivis was om transformasie te versnel ná die einde van apartheid en om historiese gemarginaliseerde gemeenskappe op te hef.

Op sy beurt het premier Alan Winde na Sonn verwys as ’n Suid-Afrikaanse reus, wat groot geword het as ’n seun van die Karoo om uiteindelik die land se eerste demokratiese ambassadeur in Washington te wees. Volgens Winde sal Sonn se bydraes tot onderwys, geregtigheid en nasiebou voortgaan om Suid-Afrika vir toekomstige generasies te help vorm.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê dat dié organisasie ook erkenning wil gee aan Sonn veral vir sy rol om diverse gemeenskappe by mekaar te bring vir gesprekvoering om wedersydse erkenning en respek vir hulle geskiedenis en kulture te bewerkstellig. “Hierdie rol is vir ons as gemeenskapsorganisasie die belangrikste gegewe die verdeeldheid wat ons samelewing op hierdie tydstip in ons geskiedenis kenmerk. Ons het vredesmakelaars soos dr Sonn nodig om te help om ons deur hierdie storm te stu,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum sal die komende naweek ’n twee-dag-beraad oor verdelende kwessies in die Afrikaanssprekende gemeenskappe aan dr Sonn opdra.