Kaapse Forum, Educatio en Wolkskool bemagtig Skurweberg Sekondêre Skool
Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 20 Julie ’n nuwe skoolprojek, Wolkskool, by die Skurweberg Sekondêre Skool in Op-die-Berg van stapel gestuur. Kaapse Forum is daarop gefokus dat die jeug gelyke kanse moet hê en het daarom in vennootskap met Wolkskool getree, sodat hulle hul maksimum potensiaal kan bereik soos elke individu se talent en tyd dit toelaat.
“Die jeug is ons almal se toekoms, daarom is ons aktief betrokke by die ontwikkeling van jongmense. ’n Belangrike aspek hiervan fokus daarop om gelyke geleenthede eerder as gelyke uitkomstes te bevorder,” sê Bernard Pieters, koördineerder vir Kaapse Forum.
Kaapse Forum ondersteun die beginsel van gelyke geleenthede en werk saam met verskeie groepe om hierdie teorie in die praktyk te kan uitleef. Dus het die Kaapse Forum daad by woord gevoeg en begin om die skole, waarby die Kaapse Forum betrokke is, se wiskunde-klaskamers toe te rus met witborde, dataprojektors en luidsprekers. Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook graad 8- en 9-werkboeke geskenk.
Deur Wolkskool met die tradisionele onderrigmodel te kombineer, het elke onderwyser en leerling toegang tot ’n tipe privaat tutor op hul foon wat konsepte in video’s verduidelik. Die video’s is op byna alle hoërskoolvakke, sowel as verskeie laerskoolvakke, van toepassing. Wolkskool sal leerlinge by Skurweberg Sekondêre Skool die geleentheid bied om enige agterstallige werk in te haal. Hierdie video’s kan ook by die skool afgelaai en later by die huis gekyk word indien internettoegang ’n uitdaging is. Video’s van vorige jare se skoolwerk en ou vraestelle met memorandums is net enkele van die hulpbronne wat nou ook vir leerlinge op dié platform beskikbaar is.
“Ons wil graag in 2024 meer skole kan help en hoop te skep met praktiese hulpmiddels wat hierdie leerders gaan help om hulle drome te verwesenlik,” sluit Pieters af.
Die Kaapse Forum ondersteun tans drie skole in die Wes-Kaap. Kontak Bernard Pieters by info@kaapseforum.co.za om te help om nog ’n skool te borg.
Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.