Kaapse Forum eis MRK-ondersoek na ‘aanstootlike stellings’ op potgooi
Kaapse Forum is diep ontsteld en geskok oor die afgryslike en afbrekende opmerkings wat onlangs op die Open Chats Podcast uitgesaai is. In die betrokke episode maak vier jong swart aanbieders stellings soos dat die bruin gemeenskap “mal” is en “bloedskandelik” lewe deur “met hul broers en susters te slaap”.
Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum, sê: “Hierdie stellings is nie net feitelik vals en blatant aanstootlik nie, maar is ’n regstreekse aanval op die waardigheid en menswaardigheid van bruinmense, die afstammelinge van die Eerste Nasies van ons land. Hierdie tipe retoriek voed en versterk skadelike stereotipes wat ons gemeenskappe aanhou marginaliseer.”
Kaapse Forum neem kennis van die sogenaamde “verskoning” wat deur die Open Chats Podcast uitgereik is, maar die organisasie verwerp dit as onvoldoende. ’n Generiese nota van spyt na so ’n ernstige en lasterlike insident kan nie as ware aanspreeklikheid beskou word nie.
“Daar is geen direkte erkenning van wangedrag nie en geen betekenisvolle verbintenis tot regstellende optrede nie. Woorde sonder gevolge beteken min vir gemeenskappe wat deurlopend verneder en ontmenslik word,” aldus Wyngaard.
Kaapse Forum gaan formeel ’n klag by die Menseregtekommissie (MRK) indien aangesien die organisasie glo dat rassisme – hetsy teen swart, bruin, Indiër of wit Suid-Afrikaners – moet daadwerklik aangespreek word. Niemand is verhewe bo die Grondwet nie.
Kaapse Forum eis dat die Open Chats Podcast-span ’n versoenings- en opvoedkundige inisiatief moet steun wat op die bemagtiging van bruin gemeenskappe gemik is. “Ons sal aanhou veg vir die waardigheid, respek en grondwetlike regte van gemarginaliseerde mense – nie net in woorde nie, maar deur dade,” sê Wyngaard.