Kaapse Forum eis tydens bekendstelling ’n referendum oor afwenteling van polisiemagte

Die Kaapse Forum as ’n nuwe burgerlike organisasie in die Wes-Kaap glo dat ’n referendum oor die afwenteling van polisiemagte na die Wes-Kaap gehou moet word. Die organisasie het hierdie aankondiging vanoggend tydens hul amptelike bekendstelling in die Bo-Kaap gemaak.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum, het vanoggend gesê dat ’n brief oor so referendum reeds aan Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, gestuur is. Winde is versoek om aan te dui of hy ten gunste daarvan sal wees en indien wel sal die Kaapse Forum help om regsekerheid daaroor te kry deur ’n hofgeding.

Kaapse Forum is ’n organisasie sonder winsbejag wat deur hul tien fokusareas daarop gemik is om in ’n massabeweging te ontwikkel. Hierdie fokusareas is: veiligheid, belasting, behuising, energie, water, voedselsekuriteit (grondsake, landbou en visserye), strafregstelsel, onderwys, infrastruktuur (openbare vervoer, hawens en spoornetwerk) en gesondheid. Die Kaapse Forum glo dat hierdie staatsfunksies behoort na die provinsie, munisipaliteite en gemeenskappe afgewentel te word.

Polisiëring sal voorkeur geniet aangesien alle gemeenskappe daagliks daardeur geraak word. Die polisie se onvermoë om ernstige misdaad, soos bendegeweld, moorde en plaasaanvalle hok te slaan is maar net een aanduiding van hoe die ANC se obsessie met sentralisering en kaderontplooiing staatsfunksies lamlê.   

Kaapse Forum glo ’n referendum moet gehou word sodat Wes-Kaapse gemeenskappe se steun vir twee kwessies getoets kan word: 1) of polisiemagte vanaf die nasionale regering na die provinsiale regering afgewentel moet word en 2) of Wes-Kaapse belastingbetalersgeld, wat uit die nasionale fiskus vir polisiëring bewillig word, direk aan die Wes-Kaapse regering oorbetaal moet word.

“Soos ons dit in ons manifes stel, sal die uitbouing van gemeenskapselfstandigheid gemeenskappe in staat stel om toenemend hulle toekoms in hulle eie hande te neem. Met ander woorde, die Kaap se toekoms behoort in Kaapse hande geplaas te word,” sê Wyngaard.

Wyngaard het ook die direksielede vir die Kaapse Forum aangekondig wat die organisasie in hul doelwitte sal ondersteun:

Heindrich Wyngaard (uitvoerende voorsitter), William Waugh (bedryfshoof), Maryna Marengo-Barnard (regsgeleerde), Carol van der Linde (strateeg), William Sezoe (onderwysstudent en taalaktivis), Kallie Kriel (AfriForum-verteenwoordiger), Malixole Gwatyu (landboukundige) en JP Biko Keyter (korporatiewe kommunikasiekundige en entrepreneur).

“Terwyl die Kaapse Forum ruimte laat vir gemeenskappe om hul diversiteit uit te leef, wil ons vir alle gemeenskappe die burgerlike organisasie van voorkeur word. Ons aanvaar dat daar noodwendig verskille tussen gemeenskappe oor sekere kwessies mag bestaan, maar ons glo dit is beter om te fokus op dit waaroor ons saamstem,” voeg Wyngaard by. “Die Kaap was nog altyd ’n plek van samekoms vir mense met verskillende agtergronde, kulture, tale en geloofsoortuigings. Ons moet daarop voortbou deur hande te vat met mekaar en ’n veilige en welvarende toekoms vir alle gemeenskappe te bou.”