Kaapse Forum en adv. Gerrie Nel staan lt.kol. Charl Kinnear se gesin by in moordondersoek

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het AfriForum se privaatvervolgingseenheid Vrydag opdrag gegee om die moord op lt.kol. Charl Kinnear, wat reeds meer as drie jaar lank sloer, te ondersoek. Dit volg nadat verteenwoordigers van Kaapse Forum en adv. Gerrie Nel, hoof van die vervolgingseenheid, lede van die Kinnear-gesin Vrydag besoek en die aangeleentheid bespreek het. Lt.kol. Kinnear, toenmalige hoof van die ondersoekafdeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se teenbende-eenheid, is op 18 September 2020 koelbloedig voor sy huis in Bishop Lavis vermoor.

Zona Morton, ’n gemeenskapsveiligheidaktivis van Kaapstad, het die saak na Bernard Pieters by Kaapse Forum verwys, waarna daar tydens ’n konsultasie met adv. Nel en sy span daarop besluit is om formeel by dié saak betrokke te raak. Meer inligting rakende die volgende stappe in die ondersoek sal binnekort bekend gemaak word.

“Die feit dat daar tot dusver min tot geen vordering was rakende die dissiplinêre aksie deur die SAPD in die ondersoek van die moord op lt.kol. Kinnear nie, is ’n skrynende skande. Die staat wys hierdeur hul totale gebrek aan uitvoerende vermoëns en die wil om hul eie teen misdadigers te beskerm. Dit is net nóg ’n rede waarom polisiëringsmag na plaaslike vlak afgewentel moet word,”  sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.