Kaapse Forum en Educatio onderteken erkenning- en samewerkingsverdrag

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 18 Januarie ’n erkenning- en samewerkingsverdag onderteken om samewerking tussen die Kaapse Forum en Educatio amptelik te sluit.

“Die bemagtiging van die jeug en ook die mobilisering van onderrighulpmiddels in die Witzenberg-gemeenskap is vir ons die hoogste prioriteit. Ons, by die Kaapse Forum is verheug oor die passie en toekomsvisie van Educatio wat reeds self verantwoordelikheid neem, nie net vir hul eie toekoms nie, maar ook die van die breër gemeenskap,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende hoof van die Kaapse Forum.

“Die agteruitgang van ons jeug, ten opsigte van skoolverlating en werkloosheid het ons genoodsaak om ’n organisasie te stig wat iets hieraan doen. Ons kinders het verskillende behoeftes wat getakel moet word, daarom doen ons dit en ons glo dat ons gemeenskap ons sal ondersteun,” sê Daniel Dirks, voorsitter van Educatio.

Die formalisering van betrekkinge tussen die Kaapse Forum en Educatio volg nadat hierdie gemeenskapsorganisasies verlede jaar reeds op verskeie projekte in die Witzenberg-omgewing begin saamwerk het. Die Kaapse Forum ondersteun die werk wat Educatio doen en dit waarvoor hulle staan, en sien uit na dit wat hulle saam gaan bereik deur hul hulpbronne, ten bate van die gemeenskap, in te span.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za, of sluit by www.kaapseforum.co.za aan.