Kaapse Forum en Green4Life skenk 200 bome aan HOPE Sentrum se landbouprojek

Die Kaapse Forum en Green4Life het op 16 September 200 bome en nagenoeg 200 vrugteboomsteggies aan die HOPE Sentrum in Delft geskenk om sodoende hul bestaande landbouprojekte te ondersteun.

Kaapse Forum en Green4Life het met Babylonstoren onderhandel vir die byna 200 vrugteboomsteggies. Babylonstoren het selfs gratis opleiding aan die jongmense by dié sentrum gebied waar hulle geleer het hoe om na hierdie steggies om te sien en oor die kweek van bome in die algemeen. Daar is steggies van verskeie vyeboomspesies, kwepers, en granate geskenk.

Bykomend het die Kaapse Forum en Green4Life ook 200 bome aan die sentrum geskenk. Dit sluit onder meer kastaiingbome, wilde pruimbome, waterpeerbome en hibiskusbome in. Kaapse Forum is met trots deel van die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake se 1-miljoen-bome-projek.

“Kaapse Forum is trots om saam te werk met ander organisasies wat ’n daadwerklike en meetbare verskil maak in gemeenskappe. Landbouprojekte lê Kaapse Forum veral na aan die hart aangesien dit jongmense se opsies rondom loopbaankeuses verbreed om ook ’n loopbaan in landbou in te sluit. Dit leer hierdie jongmense ook om vir iets te sorg en verantwoordelikheid daarvoor te neem, so kan hulle sien dat hulle aksies en besluite gevolge het. Dit wat gekweek of geoes word kan dan vir ’n voedingskema gegee word of verkoop word deur die skool. Hier bedank ons dan ook die Departement van Bosbou, Visserye en Omgewingsake wat met ons hande geneem het en dat ons produktief kan saam werk om so Suid-Afrika ook te vergroen,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by die Kaapse Forum.

Die HOPE Sentrum in Delft fokus veral op kinders en gesinne wat in armoede leef. Die sentrum het verskeie suksesvolle projekte wat daarop gefokus is om die algehele lewenskwaliteit van die Delft-gemeenskap te verbeter.

“Kaapse Forum ondersteun projekte en gemeenskappe wie ‘n verskil maak en deur saam te werk versterk ons mekaar ten goede van die gemeenskappe wie ons dien,” sluit Pieters af.  

Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.