Kaapse Forum en Virseker skep blink toekoms vir Klipdale E.K Primêr se leerders
Kaapse Forum en die Virseker Trust het vanjaar weer kragte saamgespan om die voortdurende stryd teen armoede in die Wes-Kaap saam met ’n nuwe generasie skoolleerders aan te pak. In dié projek word behoeftige gr. 1’s toegerus met ’n skooltas vol drome, hoop én al die nodige skryfbehoeftes om hul skoolloopbane op die regte voet te begin. Net minder as 200 tasse, gevul met skryfbehoeftes ter waarde van nagenoeg R600 elk, word vandeesweek by skole en gemeenskapsorgsentrums in die Wes-Kaap uitgedeel. As deel van dié projek is 20 tasse vandeesweek by Klipdale E.K Primêr in die Overberg-distrik uitgedeel.
Volgens Bernard Pieters, bestuurder van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum, het navorsing al telkens getoon dat hoër opleidingsvlakke lei tot laer werkloosheidsyfers. Daarom, meen Kaapse Forum, sal die skenkings wat by skole en sorgsentrums in die Wes-Kaap gemaak is, ’n belangrike bydrae maak tot die toekoms van elkeen van die betrokke leerders wat by die projek baat.
Die heel basiese items in ’n gr. 1-leerder se skryfbehoeftepakket kan ’n ouer minstens R580 uit die sak jaag. ’n Ontleding van die 2024 South African Child Gauge toon dat hongersnood onder kinders in 2022 die hoogste in die Noord-Kaap was, waar 24% van kinders erge wanvoeding aangeteken het, gevolg deur die Wes-Kaap (16%). Die Wes-Kaap is ook die enigste provinsie waar hongersnood onder kinders oor die afgelope twee dekades nie verminder het nie. Met dit in ag genome, is dit te verstane dat duisende ouers van skoolleerders net eenvoudig nie die nodige hulpmiddele het om skryfbehoeftes aan te koop nie.
Volgens Pieters het die Wes-Kaapse regering in ’n oorsigdokument oor ekonomiese aangeleenthede benadruk dat armoede en die onderwyser-leerder-verhouding van die belangrikste elemente is wat ’n invloed op leerders se akademiese prestasie het. Daar is onlangs aangekondig dat die onderwyser-leerder-verhouding tans op ’n gemiddeld van 1:35 staan en in sekere gebiede soos Bellville, Kuilsrivier en Mitchells Plein is oorvol klaskamers reeds geruime tyd ’n ernstige probleem. Met die verlies aan nóg kundige onderwyspersoneel sal hierdie verhouding vanjaar verder toeneem, wat verdere uitdagings tot gevolg sal hê. Dis ook nie ’n krisis waarvan Kaapse Forum net kennis neem nie. Dié burgerregteorganisasie het reeds verskeie vergaderings met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gehad oor moontlike oplossings en samewerkingsgeleenthede.
Morné van Emmenes, hoof van Bemarking by Virseker sê dis ook Viseker – Suid-Afrika se enigste trots-Afrikaanse versekeringshandelsmerk – se eer en voorreg om by die skooltassieprojek betrokke te wees en só die jong leiers van môre toe te rus om hul volle potensiaal te bereik. “Ons staan op die skouers van elke Virseker-polishouer, wie se maandelikse bydrae tot die Virseker Trust help om Afrikaanse onderrig te bevorder, gemeenskappe in nood by te staan en Afrikaans as taal te bou, te groei en te sien floreer. Ons kinders is ons rykste skat – een waarin die hoop op selfs ’n beter Suid-Afrika opgesluit lê – en ons hoop dat elke blinknuwe tassie net die inleiding is tot ’n skitterblink toekoms.”
Kaapse Forum sal derhalwe vanjaar as deel van sy onderwysstrategie ook druk op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement plaas om sy beloftes na te kom om nuwe skole in dié provinsie op te rig of in vennootskap met burgerregteorganisasies aan volhoubare oplossings te werk.
“Ons glo dat die skenking van skryfbehoeftes aan leerders in die Wes-Kaap ’n verskil sal maak in hierdie leerders se lewens – veral waar hulle nou formeel hul skoolopleiding afskop. Elke pen, potlood, toegewyde onderwyser en hardwerkende leerder bring dié provinsie nader aan die dag waar die juk van armoede vir nog ’n gesin afgeskud kan word. Ons sien saam met dié leerders en hul skoolgemeenskappe uit na die sukses wat voorlê,” sluit Pieters af.
Hierdie projek is finansieel moontlik gemaak deur die Virseker Trust.
Raak vandag nog betrokke by Kaapse Forum en help om ’n verskil in Kaapse-provinsies te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za vir meer inligting of besoek www.kaapseforum.co.za om aan te sluit.