Kaapse Forum en Wolkskool bemagtig Hoërskool Vanrhynsdorp

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 20 Julie ’n nuwe skoolprojek, Wolkskool, by die Hoërskool Vanrhynsdorp van stapel gestuur. Kaapse Forum is daarop gefokus dat die jeug gelyke kanse moet hê en het daarom in vennootskap met Wolkskool getree, sodat hulle hul maksimum potensiaal kan bereik soos elke individu se talent en tyd dit toelaat.

“Die jeug is ons almal se toekoms, wat is dus beter as om aktief betrokke te raak by die ontwikkeling van jongmense. ’n Belangrike aspek hiervan fokus daarop om gelyke geleenthede eerder as gelyke uitkomstes te bevorder,” sê Bernard Pieters, koördineerder vir Kaapse Forum.

Kaapse Forum ondersteun die beginsel van gelyke geleenthede en werk saam met verskeie groepe om hierdie teorie in die praktyk te kan uitleef. Dus het Kaapse Forum daad by woord gevoeg en begin om die skole waarby dié organisasie betrokke is se wiskunde-klaskamers met witborde, dataprojektors en luidsprekers toe te rus. Daar is ook vir graad 8- en 9-werkboeke geskenk vanaf Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Deur Wolkskool met die tradisionele onderrigmodel te kombineer, het elke onderwyser en leerling toegang tot ’n sogenaamde privaat tutor op hul foon wat konsepte in video’s verduidelik. Die video’s is op byna alle hoërskoolvakke, sowel as verskeie laerskoolvakke, van toepassing. Wolkskool sal leerlinge by die Hoërskool Vanrhynsdorp die geleentheid bied om enige agterstallige werk in te haal. Hierdie video’s kan ook by die skool afgelaai en later by die huis gekyk word indien internettoegang ’n uitdaging is. Video’s van vorige jare se skoolwerk en ou vraestelle met memorandums is net enkele van die hulpbronne wat nou ook vir leerlinge op dié platform beskikbaar is.

Tans ondersteun Kaapse Forum drie skole in die Wes-Kaap. Kontak Bernard Pieters by info@kaapseforum.co.za om nóg ’n skool te help. Met jou ondersteuning kan Kaapse Forum volgende jaar nóg skole op hierdie manier ondersteun deur hoop te skep waar daar praktiese hulpmiddels aan skoliere voorsien word om hul droom te kan verwesenlik.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.