Kaapse Forum gekant teen Hlophe se RDK-nominasie

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum sê dit sal ’n absolute skande wees en ook ’n oneer teenoor die land se regstelsel indien John Hlophe, uitgeskopte voormalige regterpresident van die Wes-Kaap, op die Regterlike Dienskommissie (RDK) aangestel word.

Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, sê dit was erg genoeg dat Hlophe pas as ’n LP van die Jacob Zuma-geleide MK-party ingesweer is. “Uiteraard kan ’n mens niks daaraan doen as twyfelagtige karakters deur ’n party aangewys word om as ’n parlementêre verteenwoordiger van sodanige party op te tree nie,” sê hy. “Die burgerlike samelewing het egter ’n verpligting om sy stem duidelik te laat hoor wanneer nominasies vir aanstelling op ’n kritieke instelling, soos die RDK, gedoen word.”

Kaapse Forum verwelkom dit dat ’n hele aantal ander organisasies, soos Freedom Under Law, Casac, Judges Matter, Defend our Democracy en die Helen Suzman- en Ahmed Kathrada-stigting, ook reeds in ’n brief aan die Speaker van die Nasionale Vergadering, Thoko Didiza kapsie gemaak het teen Hlophe se RDK-nominasie. Kaapse Forum skryf ook hul eie klagte hieroor aan die Speaker.

Wyngaard sê Hlophe sou nooit in die parlement beland het as dit nie was dat hy as regter-president van die Wes-Kaap in ’n staat van beskuldiging geplaas is en deur pres. Cyril Ramaphosa van die regbank verwyder is ná sy skuldigbevinding aan onbehoorlike optrede nie.

“Onder normale omstandighede behoort die inwoners van die Wes-Kaap met trots na sy voormalige regter-president te kyk. Hlophe het egter skande oor die provinsie gebring toe hy kollegas ten gunste van Zuma probeer beïnvloed het. Eerder as dat hy homself uit die openbaar verwyder, word hy nou deur Zuma beloon met sy aanwysing as MK-hoofsweep in die Nasionale Vergadering.”

Kaapse Forum glo Hlophe se moontlike teenwoordigheid in die RDK, saam met dié van die EFF-nominasie, Julius Malema, hou ’n ideologiese gevaar vir die regbank in. Sowel MK as die EFF beywer hulleself vir ’n sogenaamde geafrikaniseerde regbank. Wat hulle wil bereik, is die verwydering van die Romeins-Hollandse regstelsel en ’n tipe van etniese suiwering wat die aanstelling van swart regters bó dié van kandidate uit minderheidsgroepe sal stel.

“Hierdie soort ingesteldheid sal katastrofies vir Suid-Afrika as ’n nie-rassige, grondwetlike demokrasie wees – spesifiek in hierdie era van ’n nuwe politieke bestel van samewerkende regering deur ’n tiental partye,” sê Wyngaard.

Kaapse Forum word ook daaraan herinner dat Hlophe daarvan beskuldig is dat hy homself as hoofregter skuldig gemaak het aan rassistiese en seksistiese boeliegedrag teen kollegas. Dit is ’n verdere rede waarom ons geheel en al gekant is teen sy moontlike lidmaatskap aan die RDK.