Kaapse Forum hou Kerspartytjie vir Morningstar-jeug

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 9 Desember saam met die Morningstar Hot-Spot Biblioteek, onder leiding van Lynn Louw, gespan om ’n Kerspartytjie vir verdienstelike lede van die Morningstar-jeug te hou. 

Die Morningstar Hot-Spot Biblioteek is ’n naskoolse sentrum waar leerlinge addisionele hulp ontvang met hul skoolwerk. Lynn en haar span van vrywilligers bestuur weeksdae hierdie sentrum vir skoliere in die Durbanville omgewing wat graag hulself wil verbeter. Hierdie groep van sowat 45 skoliere het hulself deur die jaar bewys as toegewyde skoliere wat die verantwoordelikheid geneem het om hulself te bemagtig deur hul kennis uit te brei en terug te ploeg in hul gemeenskap in. 

“Ons is baie opgewonde oor toekomstige projekte waar ons kan saam werk en mekaar se kennis, kundigheid en ervaring kan deel tot voordeel van beide groepe en dus ook die gemeenskap in geheel,” sê Tommy van Zyl, koördineerder by die Kaapse Forum.

“Die bemagtiging van die jeug en ook die aanspreek van veiligheidskwessies in die Morningstar-gemeenskap is vir ons die hoogste prioriteit. Ons by die Kaapse Forum is verheug oor die passie en toekomsvisie van hierdie jong skoliere wat reeds self verantwoordelikheid neem oor hul eie toekoms en die toekoms van hul gemeenskap,” voeg Bernard Pieters, koördineerder by die Kaapse Forum by.

Die Kaapse Forum is reeds besig met beplanning en besprekings vir samewerkingsgeleenthede in 2023 om nie net die verhouding met Morningstar te versterk nie maar ook uit te brei na soortgelyke sentrums.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.