Kaapse Forum: KI moet taalgelykheid bevorder, nie ongelykheid verdiep nie
Kaapse Forum het sy kommentaar op die Universiteit Stellenbosch (US) se konsep-taalbeleid vir 2026 ingedien en sy steun vir werklike meertaligheid herbevestig. Die organisasie waarsku egter dat die voorgestelde beleid die risiko inhou om bestaande taalongelykhede verder te verdiep deur Engels toenemend as die verstektaal te vestig, terwyl Afrikaans en isiXhosa aan ongedefinieerde voorwaardelike ondersteuning onderwerp word as tweedehandse taal.
Volgens Kaapse Forum leef ons in ’n tyd waar tegnologiese vooruitgang, en veral kunsmatige intelligensie (KI), ongekende geleenthede skep om mense nader aan mekaar te bring en taalhindernisse af te breek. Dit behoort daarom nie langer nodig te wees dat een taal bevoordeel word ten koste van ander nie.
“Waar taalverskille in die verlede as ’n politieke uitdaging voorgehou is, bied moderne KI-tegnologie vandag die vermoë om gehalte-akademiese inhoud vinnig en doeltreffend in verskillende tale beskikbaar te stel. Die fokus moet wees om tale gelykwaardig te behandel, nie om die dominante posisie van Engels verder te versterk nie. KI laat toe dat die bron van inligting dus in Afrikaans, isiXhosa of ʼn ander taal kan wees wat dit weer vertaal na Engels,” sê Bernard Pieters, hoof van Gemeenskapsaktivering by Kaapse Forum.
Die organisasie meen dat ware meertaligheid nie bereik word wanneer Afrikaans en isiXhosa hoofsaaklik vir opsommings, verduidelikings of ondersteunende doeleindes gebruik word nie. Sulke benaderings vergroot ongelykhede omdat studente nie dieselfde vlak van toegang tot kennis in hul moedertaal geniet nie. Indien taalgelykheid nie die uitkomste is soos beloof word nie is hierdie nuutste taalbeleid nie meertaligheid nie, maar ʼn doelbewuste afbreking van ʼn bestaande akademiese taal.
Kaapse Forum voer aan dat KI juis die potensiaal het om groter insluiting te bevorder deur akademiese materiaal, assesserings en kommunikasie in verskeie tale van dieselfde gehalte beskikbaar te maak. Die tegnologie moet gebruik word om mense nader aan mekaar te bring en toegang tot kennis uit te brei, eerder as om bestaande anti-taaldiversiteit taalhiërargieë te verstewig.
“Die Universiteit Stellenbosch het die geleentheid om ’n wêreldleier in meertalige hoër onderwys te wees. In plaas daarvan om na ’n enkele verstektaal terug te val, behoort die instelling nuwe tegnologie te benut om werklike taalgelykheid te verwesenlik en die akademiese ontwikkeling van al sy amptelike tale te bevorder,” sluit Pieters af.
Kaapse Forum doen daarom ’n beroep op die US om die finale taalbeleid so aan te pas dat dit die moontlikhede van moderne tegnologie benut om ongelykhede te verminder, eerder as om dit te vergroot.

