Kaapse Forum kroon nog ’n dinamiese Kaapse kampioen

Kaapse Forum het op 14 September die personeel van Die Eiland Huis vir Gestremdes in St. Helenabaai as Kaapse kampioen gekroon. Tydens dié burgerregteorganisasie se besoek aan hierdie versorgingsfasiliteit, is daar hulde gebring aan ’n span verpleegpersoneel wat in buitengewone omstandighede ’n groot verskil in 16 gestremdes se lewens maak.

Die inwoners van hierdie versorgingsfasiliteit is tussen 6 en 20 jaar oud. Die mees onlangse intrekker is ’n sesjarige meisie wat gestremd en blind gelaat is nadat sy breinvliesontsteking opgedoen het.

As deel van die Kaapse kampioen-projek is goedere, wat nodig is vir die daaglikse versorging van die inwoners, aan die fasiliteit geskenk.

Suster Maxie Potgieter het aan die verteenwoordigers van Kaapse Forum verduidelik dat hulle die tehuis só bedryf dat dit vir die inwoners voel asof hulle deel is van ’n gewone huishouding. Die versorging van gestremdes kan uitdagend wees veral as dit gepaardgaan met beperkte hulpbronne. Potgieter en haar personeel het ’n baie hegte verhouding met die inwoners in hul sorg en daar word aandag aan elkeen se besonderse belange en behoeftes geskenk. Elke inwoner word met liefde versorg en dit is duidelik sigbaar op hul gesigte.

“Dit is vir ons as Kaapse Forum ’n voorreg om vir suster Maxie en haar span as ’n merkwaardige Kaapse kampioen te kroon. Haar toewyding, liefde en sorg vir die mense is vir ons ’n riem onder die hart. Suster Maxie sit die spreekwoordelike veerkrag terug in ’n gemeenskap. Sy skep hoop waar ander nie verder kan nie,” sê Tommy van Zyl van Kaapse Forum.

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.