Kaapse Forum kroon nog ’n Kaapse kampioen

Laurika Stander van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kleinmond is op 31 Mei as een van Kaapse Forum se Kaapse kampioene gekroon. Die passie wat Stander vir haar gemeenskap en haar werk het, is duidelik sigbaar: Sy laat die was van die NSRI-boot na ’n lekkerte lyk! Die aandag wat sy en haar span aan klein dingetjies skenk, maak dit duidelik dat dié span iets besonders is.

Verteenwoordigers van Kaapse Forum het besoek afgelê by die NSRI-stasie in Kleinmond om Stander se toekenning aan haar te oorhandig. Dis toe dat hulle die dinamiese span van sowat 30 vrywilligers ontmoet het wat hul tyd gee én soms hul lewe waag vir ander se veiligheid.

Stander is ook baie betrokke by ’n skool in Proteadorp waar sy die leerlinge met hul take help.

“Net soos Kaapse Forum, het sy ’n passie om leerlinge op te bou en om vir hulle hoop te skep. Laurika glo ook dat ’n beter toekoms vir ons kinders geskep kan word as jy van kleintyd af trots, hoop en liefde in hulle wakker maak,” sê Tommy van Zyl, ’n koördineerder van Kaapse Forum.

“Hierdie groep mense van die NSRI, wat meestal vrywilligers is, is ’n goeie voorbeeld van hoe ’n klein groep mense self verantwoordelikheid neem vir hul gemeenskap om dit veiliger te maak. Dis hierdie tipe ingesteldheid wat Kaapse Forum poog om te kweek en te beloon.”

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.