Kaapse Forum kroon nog ’n Kaapse Kampioen

Die burgerregteorganisasie Kaapse Forum het op 8 Junie besoek afgelê by Engelbrecht Primêr in Elandsbaai waartydens Emré Forster, die waarnemende onderhoof, as die vyfde Kaapse Kampioen gekroon is.

Gedurende ’n spesiale saalbyeenkoms het Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, ook ’n toespraak gelewer waarin hy ’n inspirerende boodskap van hoop aan die personeel en leerlinge oorgedra het.

Om as ’n Kaapse Kampioen gekroon te word, moet jy uitstaan in die gemeenskap; jy moet veerkragtig wees en baie doen om jou gemeenskap op te bou en te ondersteun. Dít is slegs enkele van Forster se besonderse eienskappe wat haar die titel van Kaapse Kampioen besorg het. Sy is die fondasie waarop ’n skool soos Engelbrecht Primêr gebou is wat die leerders inspireer om hoër hoogtes te bereik.

Forster is ook ’n leier in die Elandsbaai-gemeenskap en haar betrokkenheid maak ’n positiewe verskil in baie mense se lewens. Elke Saterdagoggend bied sy Bybelstudie aan waar sowat 40 kinders byeenkom en allerhande aktiwiteite doen. Sy leer die kinders van waardes en selftrots en sorg ook dat hulle nie met ’n leë maag huis toe gaan nie.

“Met die kroning van ’n Kaapse Kampioen probeer ons dankie sê en erkenning gee aan persone wie se onselfsugtige harde werk ’n verskil in ander se lewens maak. Hulle is gewone mense wat die buitengewone verrig en met Emré se toekenning is dit juis die geval,” sê Wyngaard.

“Solomon Oritz het gesê: ‘Education is the key to success in life, and teachers make a lasting impact in the lives of their students.’  Óns by Kaapse Forum glo Emré se invloed in die kinders se lewens sal lei tot hulle sukses en geluk in die toekoms.”

Raak vandag nog betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n e-pos aan info@kaapseforum.co.za of sluit aan by www.kaapseforum.co.za.